Pearly Beach se Fynbosbewaring, met Heilie Mostert as projekleier, bestaan uit 3 sektore: die Fynbossentrum met ‘n vertoonlokaal van vars fynbosspesies, die Herbariumgedeelte, asook hulle nuutste toevoeging, die Fynbos Garden.
Die Fynbos Garden het sowat ‘n jaar gelede op die oop stuk grond langs die Fynbossentrum tot stand gekom. Die netjiese uitgelegde tuin met wandelpaadjies, bestaan tans uit sowat 400 plante wat in die dorp groei en in die tuin vir bewaring oorgeplant word, asook sowat 40 bome, waarvan 15 Witmelkhoutbome is. Die korrekte botaniese name is by elke spesie en boom aangebring, wat ‘n besoek aldaar des te meer interessant maak. Die meeste van die plant- en onderhoudswerk word eiehandig deur Heilie hanteer, met hulp op Dinsdae vir die skoonmaak van die paadjies en voorbereiding van die grond om te plant. “Ek verkies om self die plantwerk te doen sodat dit op die regte wyse gedoen word.”
Wat die Herbarium betref, kan daar vir ure na Heilie en haar passie vir die afgelope 15 jaar geluister word. Tans is daar 346 geïdentifiseerde spesies op haar indekskaarte. Eers moet die spesies gevind word (wat sy self in die veld versamel!), daarna identifiseer sy dit, waarna sy dit pars. Die geparste spesies met volledige besonderhede word op die indekskaarte aangebring, waarna dit vir bewaring en navorsing geliasseer word, byna soos in ‘n biblioteek se naslaanafdeling. Nasionale Naamlyskodes word ook op die bome in die tuin aangebring.
Alle dokumentasie word ook op lêer geplaas en elke Desember stuur Heilie ‘n volledige verslag van die jaar se geplukte spesies aan Cape Nature, ingesluit die GPS-lesing van die presiese ligging waar sy die spesie gekry het. “Ons ontvang ook gereeld kundige botanikuste en navorsers van Kirstenbosch en Stellenbosch as besoekers en daarom wil ek graag vir hulle wys dat ons Herbarium professioneel en op die korrekte wyse bedryf word,” vertel Heilie. Vir navrae rakende die Herbarium en die Fynbos Garden, kan Heilie Mostert by 082-392-1178 geskakel word.
Hardus Botha
Foto 1: ‘n Pragtige lugfoto van die Fynbos Garden by Pearly Beach se Fynbossentrum wat deur Dennis McCrysal geneem is
Foto 2: Heilie Mostert, projekleier van Pearly Beach se Herbarium, met twee van die Indekskaarte in haar hand en ‘n voorbeeld van hoe die spesies gepers word langs haar