Die Football Foundation Of South Africa het verlede Saterdag aan die Knysna Forest Half-Marathon deelgeneem. Afrigter Corrie Avenant en drie van sy atlete, Themba Mangali, Marco Maarman en Thembasile Mangali het die 21km aangepak.
"Dit was 'n wonderlike ervaring vir ons atlete om aan hulle eerste half-marathon deel te neem en ons is baie trots op hulle. Die atlete neem ook tans deel aan die Boland Landloop Proewe," het Avenant gesê.
Themba het uitgeblink deur 14de in 'n tyd van 01:21:23 oor die eindstreep te hardloop in 'n wedloop waaraan 4000 deelnemers deelgeneem het. Thembasile was 34ste in 01:25:08 en Marco 158ste in 01:36:52. Hul afrigter het die afstand in 01:59:47 afgelê.
Volgens Avenant, is hul tans ook in die proses om 'n atletiekklub in die dorp te stig. "Ons wil graag hê dat meer mense betrokke raak en deel wees van hierdie wonderlike sport. Ons het so baie jong talent in die dorp en met die regte ondersteuning kan hulle nog baie hoogtes bereik. German Lewis, Vasti Pietersen, Azadia Wardt doen ook baie goed in die Boland Proewe hierdie jaar en staan ook 'n kans om hulle provinsie te verteenwoordig," het hy gesê.
Alle atlete word net weer herinner dat landloop-oefening weer komende Maandag 16:00 begin. Navrae kan aan Corrie Avenant by 084 832 2991 gerig word.