Boland se dogters o/16 rugbyspan het in Durban saam met nog 15 Provinsiale spanne aan 'n Nasionale toernooi deelgeneem. Die Bolandspan sluit onder andere Witzenberg, Overberg, Swartland, Brieërivier en Langeberg-streek in. In hul eerste wedstryd het Boland en die Lions swaarde gekruis , waar Boland as oorwinnaars uit die stryd getree het (10-5).
Die volgende wedstryd was teen die Pumas waar hul weer eens as wenners was (12-10). Na 'n afdag was die laaste wedstryd teen die Sharks waar ons met 20-0 verloor het. Na die wedstryd is daar aangekondig dat 3 dogters, Tamlin Engel, Esmeralda Davids en Keishia Stuurman in die SA groep opgeneem is. Zandre Otto van Gansbaai Academia (blondekop in die middelste ry heellinks) het in al 3 wedstryde gespeel en haar goed van haar taak gekwyt.
Die lang tog terug is daarna aangepak en die dogters was by hul aankoms in Wellington in trane aangesien hegte vriendskappe gevorm is. Danver August (heelregs op die foto) het sy dank teenoor die Overstrand Munisipaliteit uitgespreek vir die week wat hy afgekry het om die span as hoofafrigter te vergesel. Hy is ook die Boland Seuns o/15 rugbyspan se hoofafrigter sowel as hulpafrigter van die Senior Vroue Boland Rugbyspan.
Francois de Jongh