Met of sonder boothengelkompetisies, die geselligheid van die Birkenhead Boothengelklub in Gansbaai hawe vier te alle tye hoogty.
Die gure weer het bykans elke maand se boothengelkompetisie die afgelope tyd gefnuik, maar beslis geen demper op die maandelikse funksies geplaas nie. Die gesellige saamkuier, smaaklike etes, kroegfasiliteite en Raymond Rabe se gewilde Musiekfabriek word telkens terdeë tot laataand geniet. So was dit ook die geval tydens die onlangse maandeindfunksie. Soos gebruiklik het Johan Wiese geluktrekkings gerëel, met ‘n gas, Petro Prinsloo wat die trekkings en oorhandigings gedoen het.
Die gelukkige wenners van die bottels wyn was Maureen Taljaard en Ben de Lange. Kennis kan ook geneem word dat die pragtige en volledig-toegeruste klubsaal, met kroegfasiliteite, teen billike tariewe beskikbaar is vir enige vorm van funksies of onthale. Vir navrae en besprekings kan Ralph Gibbs by 083-561-6917 gekontak word. Birkenhead se volgende boothengelkompe-tisie en maandeindfunksie is vir Saterdag, 9 Augustus 2014 geskeduleer.
Kompetisienavrae kan aan Johan Burmeister, wedstrydsekretaris, by 082-895-7647 gerig word en Klubnavrae aan Philip Fourie, voorsitter, by 082-747-3634. Funksie-besprekings kan by Johan Wiese by 084-680-1269 gedoen word.
Hardus Botha