'n Gans het Dinsdagoggend om 07:45 Gansbaai se spitsverkeer in Hoofstraat amper tot stilstand gebring. Hy het vanaf Korporasiestraat al waggelend kruis en dwars die pad gevat tot by OK Foods.
Die polisie het hom daar voorgekeer maar was eers baie lugtig vir die gesnawelde platpoot. Spr Konst X Plaatjie het die geveerde drentelaar egter aangekeer en agter in die vangwa gelaai. Gans sit nou doodluiters in die voertuigkamp en wag op sy eienaar, wat nog opgespoor moet word, om hom te kom bevry.
Francois de Jongh