Die Overberg Kushengelklub het op Saterdag, 9 Augustus 2014 ‘n Kompetisiedag gereël. Maynard van Niekerk sê daar was 28 hengelaars wat deelgeneem het, maar net 4 visse is ingeweeg.
“Ai, ek wonder waar was die visse, ondanks die pragtige sonskyndag en kalm see - hulle het seker ook maar Vrouedag gevier!”, het hy gesê. Morné Olivier was die dag se wenner met sy 2 pragtige galjoene en ‘n mooi kolstert. Die swaarste vis vir die dag is deur Gerco Engelbrecht gevang - ‘n yslike galjoen.
Hy vertel darem dat die aand se funksie vir die dag se teleurstellende vangstes opgemaak het. Louis Otto se smaaklike potjiekos kon geniet word en daar is sommer gesellig saamgekuier. Maynard rig graag die volgende bedankings: Visions Hair & Beauty (Cornel), Liquorland, Knapsak, Fish Fever, Fynbos Shoppe, Cash Kings van Worcester en Battery Centre van Kuilsrivier. Die klub se volgende kushengelkompetisie is vir Saterdag, 6 September 2014 geskeduleer.
Vir navrae kan die Wedstrydsekretaris, Leibrandt van Niekerk by 028-384-1333 of 082-487-3106 gekontak word, of stuur ‘n epos aan hom by bietouprops@gmail.com.
Hardus Botha