Lotto blydskap

 “Ons blydskap is té oorweldigend om in woorde te kan beskryf,” het Magrieta Adams, Bestuurder: Silwerjare Dienssentrum en Oak Grove Nasorgsentrum, tydens die ontvangs van Silwerjare Dienssentrum se splinternuwe bussie gesê. “Dit is iets wat ons al só lankal só baie nodig het.”

Die Dienssentrum probeer al vir etlike jare om ‘n toekenning van die Nasionale Lotery Raad te ontvang. Hulle voortgesette pogings is op 6 Junie vanjaar beloon toe ‘n bedrag van R454,873.00 aan hulle toegeken is. Die eerste aankope was broodnodige toerusting soos ‘n stoof, yskas, vrieskas, wasmasjien, muurverwarmers en ander toerusting. Die belangrikste aankope was egter hul eie vervoermiddel vir die bejaardes, ‘n 16-sitplek Toyota Quantum bussie wat op Maandag, 18 Augustus 2014 afgelewer is.

 ‘n Mooi funksie is vir die groot geleentheid gereël, wat deur etlike eregaste, die bestuur en die bejaardes bygewoon is. “Dit klink na ‘n buitensporige bedrag wat ons ontvang het, maar ná die aankoop van die toerusting en veral die bussie, is die fondse bykans uitgeput,” sê Magrieta. “Ons volgende projek is nou ‘n motorhuis vir die bussie sodat dit nie buite moet staan nie en daarvoor het ons hulp nodig.” Magrieta bedank graag almal wat die funksie bygewoon het, maar veral ook vir Moira Opperman wat die jarelange aansoeke om Lotto-geld sonder ophou gedryf het. Magrieta het ook ingekom by die Golden Games se hindernisafdeling, Duck Walk, wat ‘n baie moeilike sportitem is. Haar suster, Annie Arends, het weer ingekom in die aantrekresies. Hulle sien nou uit na die tweede rondte van die spele en as hulle daar kwalifiseer, wag die Nasionale Goue Spele vir hulle.

Vir navrae rakende Silwerjare Dienssentrum en/of hulle motorhuis-projek, kan Magrieta Adams by 076-375-7108, of voormiddae by 028-384-2109, geskakel word. 

Groot blydskap was aan die orde van die dag met die oorhandiging van Silwerjare se eie “Lotto”-bussie
Magrieta Adams staan trots by die eerste deel van Silwerjare se “Lotto”-toerusting wat afgelewer is