Bietoubossers word Mondig

Die gewilde en bekende Bietoubos Damesklub van De Kelders, Perlemoenbaai en Gansbaai het onlangs op Dinsdag, 12 Augustus 2014 hulle mondigwording gevier. Dit was sommer ‘n spoggerige geleentheid en is op luisterryke wyse met ‘n “ High Tea” gevier, met die Bietoubossers wat heel spoggerig aangetrek het om by dié geleentheid te pas.

Thalia van Indulge was vir die smaaklike en keurige verversings verantwoordelik. Enkele erelede, almal ouer as 80 jaar, waarvan ‘n paar ook by die stigting 21 jaar gelede betrokke was, was ook teenwoordig. Hulle is Beryl Pienaar, Betsie van der Merwe, Hannaleen van Dyk, Hettie Lass, Maria Bouwer, Pearly Lindholm, Shirley Fick en Sylva van Zyl.

“Betsie van der Merwe het ‘n ‘kadotjie’ opgesit wat sy 62 jr gelede met haar ‘going away’ gedra het,” vertel Elizma de Lange van die klub. Annette van Zyl, voorsitter vir die volle 21 jaar, sê die klub is op 3 Augustus 1993 met 20 De Kelders-lede gestig.

Aanvanklik het hulle sommer in ‘n huis bymekaargekom. Die klub het van krag tot krag gegroei en later het hulle in die destydse Barnhouse Grill vergader. Daarna was dit in die Birkenhead Boothengelklub se saal, nog later in die Pretoriussaal en die afgelope tyd in die Kleinsaaltjie. Tans is daar sowat 7 stigterslede wat nog oor is - almal bo 80 jaar. Ná sowat 18 jaar het hulle op aanvraag Perlemoenbaai-dames ingesluit en deesdae ook Gansbaai-dames.

“Tans is ons sowat 60 lede en ons is nie-kerkverband en nie-politiekverband nie en ons het geen verskuilde agenda nie - almal is welkom om aan te sluit en in ons aktiwiteite te deel,” sê Annette.

Vir Bietoubos-navrae kan Annette van Zyl by 028-384-1075 gekontak word.

Hardus Botha

Die Bietoubossers het hulle behoorlik opgetooi vir hulle 21ste verjaardvieringe, met Betsie van der Merwe (voor regs) wat dieselfde “kadotjie” dra wat sy 62 jaar gelede met haar “going away” gedra het.
Van  die  Bietoubossers  se  erelede  (ouer as 80)  wat  by  die  klub se stigting betrokke was, met voor vlnr Hannaleen van Dyk, Beryl Pienaar, Betsie van der Merwe, Sylva van Zyl en Shirley Fick. Agter vlnr is Pearly Lindholm, Hettie Lass en Maria Bouwer.