Die op-en-wakker Gansbaai Administrasie van die Overstrandse munisipaliteit het weer eens vir ‘n opwindende Loslitdag gesorg. Verskeie vissies is met kalk op die munisipaliteit se grasperk uitgemerk en besighede, instansies en individue is genooi om nie-bederfbare kruideniersware ten bate van gestremde kinders daar te gaan uitpak. “Kom sluit aan en wys ons hoe Gansbaaiers met ‘style’ en ‘n ‘smile’ ‘n verskil in die lewens van kinders met gestremdheid kan maak,” het die uitnodiging gelui.
Rdh Pieter Scholtz, Overstrandse Uitvoerende Onderburgemeester, het enkele Loslitwoorde gespreek en almal vir hul bydraes bedank. Met verwysing na Elim se verteenwoordigers, suster Lesinda Cunningham en Joanne Swart, het hy hulle bedank vir die groot taak wat te Elim verrig word en gemeld dat hy vertrou die Gansbaaiers se oop hande sal ‘n bydrae lewer. Op haar beurt het Lesinda almal van harte bedank en gemeld dat die dag se opbrengstes ‘n groot gat in hulle begroting toestop.
Die volgende organisasies, skole en instansies (alfabeties) word bedank vir hulle bydrae: Cool Kidz, De Kleine Gansies, Franskraal Rolbalklub, Gansbaai SAPD, Gansbaai Superspar, Gansbaai Toerisme Buro, Irvin & Johnson, Laerskool Gansbaai, NGK Woekermark, Overstrand Munisipaliteit (Kantoor- en Biblioteekpersoneel), Tolbos Bistro en Villet & Pitzer.
“Dan ook baie dankie aan elke individu wat die dag kom ondersteun het, hetsy met kruideniersware of finansiële,” sê mnr Myburgh. “Volgende jaar gaan ons nog groter gaan!”
Hardus Botha