“Blompark se gesamentlike susters” het op Saterdag, 30 Augustus 2014 ‘n optog deur Gansbaai tot in Blompark gehou. Die groep, geklee in kleurvolle t-hemde met die embleem “Interkerklike Vroueaksie”, het by die Pretoriussaal bymekaargekom.
“Die reëlings vir die dag is onder die bekwame leiding van suster Alida Sauls, voorsitter van die susters, getref,” vertel Marlene Slinger wat self ook deel van die reëlingskomitee was. “Ons noem dit die Vroue as Pilare staptog.” Van die Pretoriussaal af is hulle onder verkeersbegeleiding in Hoofstraat af, waar hulle by Gansbaai OK Foods en Gansbaai Superspar gestop het om Vrouemaand-boodskappe aan omstanders oor te dra en saam te sing. Johannes Tobias het vir kitaarbegeleiding gesorg.
“Die susters vanuit verskeie kerklike denominasies wou graag ‘n boodskap van Hoop aan ‘n gemeenskap bring wat gebuk gaan onder dwelm- en alkohol misbruik,” sê Marlene. Later die dag het hulle ‘n byeenkoms in die Nuwe Lewe Kerk in Blompark gereël. Etlike vroue-sprekers het daar opgetree en verversings is geniet.
“Ek bedank graag vir Great White Shark Tours en White Shark Projects vir sop, water, vis en vervoer,” het Alida Sauls gesê.
Hardus Botha