Die afgelope naweek het vier spanne van Franskraal op Riviersonderend aan hul ope dag gaan deelneem. Die weer was ideaal vir rolbal en goeie spel is deur al die spanne gelewer. Besoekende spanne van onder andere Hermanus, Greyton, Caledon en Bredasdorp het aan die kompetisie deelgeneem.
Die oggend se eerste twee wedstryde is op 'n gelote basis oor 13 koppe elk gespeel en die laaste wedstryd van die dag is oor 15 koppe op 'n sterk teen sterk basis gespeel. Die spanne van Franskraal het hulself baie goed van hul taak gekwyt en twee van ons spanne moes uitspeel om die wenners van die dag te bepaal. Daardie spanne was dié van Tommie van Niekerk (skipper), Jane de Villiers, Marie Pretorius en Johan Fick en hul opponente was die span van Bryan Chambers (skipper), Archie Chambers, Philip Malherbe en Sonia Chambers. Veral die span van Tommie van Niekerk het konstant, uitstekende spel gelewer. Hulle was waardige wenners van daardie wedstryd en het daarmee dan ook die dag as wenners van die kompetisie afgesluit .
Ons hartlike geluk aan hulle. Ons gasheer klub het ons gul ontvang en dadelik laat tuis voel. Alles was baie goed georganiseer. Die bane was goed en die versnaperinge tydens tee en ook die middagete wat aan ons voorgesit is, was uit die boonste rakke. Ons opregte dank dan ook aan ons gasheer se bestuur en almal wat meegewerk het om van die dag 'n groot sukses te maak. Ons sal julle beslis weer ondersteun. Die weer is stadig maar seker besig om te verander en ons sien uit na 'n pragtige rolbalseisoen by Franskraal Rolbalklub.
Ons A-baan is onlangs van 'n ligte grondbedekking voorsien en sal hopelik weer aan die begin van Oktober gereed wees vir spel. Dit sal beteken dat ons moontlik ook met ons “sunset bowls” kan begin. Hier beoog ons om aan ons besighede en ander belangstellendes die geleentheid te bied om op 'n Woensdagaand aan sosiale spel deel te neem. Meer hieroor later.
Ek rig graag weer 'n uitnodiging aan almal wat daarin belang sou stel om rolbal te speel, om myself by 0829202941 en philipm@sswifi.co.za of vir Marius de Witt by 0829260892 en mtdewit@absamail.co.za vir meer inligting te skakel. Rolbal groete tot volgende keer.
Philip Malherbe