Die Uitvoerende Onderburgemeester van die Overstrand Munisipaliteit, rdh Pieter Scholtz, het besluit om die tuig neer te lê.
Hy was ‘n bastion in die politieke omgewing waar hy ‘n groot bydrae tot vooruitgang in die Overstrand en in besonder in Gansbaai gelewer het. Gansbaai Courant het met hom oor sy termyn en toekomsplanne gesels.
Enkele posverskuiwings is na aanleiding daarvan op Dinsdag, 23 September 2014 deur Overstrandse Uitvoerende Burgemeester, rdl Nicolette Botha-Guthrie aangekondig.
In rdl Dudley Coetzee van Pearly Beach se geval is hy met ingang van 23 September 2014 as ‘n voltydse raadslid aangewys. Hy is ook as Voorsitter van die Portefeulje Komitee: Finansies, Plaaslike Ontwikkeling en Toerisme aangewys.
Rdl Coetzee bly aan as Wyk 11 se raadslid en sal ook as voorsitter van dié wyk se Wykskomitee aanbly.
Rdl Moira Opperman is onthef van haar pligte in die Portefeulje Komitee: Bestuursdienste en is met ingang van 1 Oktober 2014 as Voorsitter van die Portefeulje Komitee: Gemeenskapsdienste aangewys.
Verdere wysigings is rdl P Appelgrein wat met ingang van 1 Oktober 2014 as Voorsitter van die Portefeulje Komitee: Bestuurs- en Beskermingsdienste (samevoeging van twee portefeuljes) aangewys is.
Rdl R Smit is met ingang van 1 Oktober 2014 as Overstrandse Uitvoerende Onderburgemeester aangestel, terwyl hy ook as Voorsitter van die Portefeulje Komitee: Infrastruktuur en Beplanning aangewys is. Rdl Smit vervang rdh Pieter Scholtz as Uitvoerende Onderburgemeester.
Hardus Botha