“Die triestige weer kon die Bietoubossers op 8 September nie daarvan weerhou om die lente met oorgawe te vier nie,” sê Elizma de Lange van die Bietoubos Damesklub van De Kelders, Perlemoenbaai en Gansbaai. “Die tafels was vrolik versier en Eddie Barnard het met sy sang en musiek bygedra tot ‘n vrolike lente-stemming.”
Sy sê met die NGK se koorleidster, Aletta Lochner saam met Eddie as begeleier, kon die gaste luister (en saamsing): “Dis Heerlike Lente”, asook ander lekkersingliedjies vir almal wat nog gewonder het of die winterklere weggepak moet word of nie. Aletta Lochner en Marie de Jager was vir die reëlings en versierings verantwoordelik, met Anita Botha wat so vanuit haar “siekekamer” gesorg het vir die versierings op die tafels. Corra Helberg van Corra’s het terselfdertyd die dames ingelig oor die nuutste somer-modegiere. “Die kuns-neiging/gier, of dan ‘trend’ in die mode-wêreld, is kreatief, selfversekerd en ‘n bietjie uitdagend,” het Corra gesê. “Dra spatsels kleur en as dit té kleurvol vir jou is, hou dan die juwele in eenvoud, met rooi lippe wat perfek daarmee saamgaan.” Die blomme-neiging wat al groot nuus in die winter was, blom voort vir die somer met die “Midnight Garden”-voorkoms en groot getekende blomme.
“Pastelkleure uit die 1960’s met glinsterende material, veral pienk, is ‘n moethê-voorkoms vir die 2014-somer. Pastelpienk op die oë met ‘n natuurlike voorkoms pas goed hierby in, met pienk haarkryt in die hare wat ook gewild is. Kobalt is een van die gunstelingkleure, en …. “moenie die kobaltblou naels vergeet nie!” Corra het ook na verskillende persoonlikhede verwys: dramatiese vrou (Madonna); natuurlike vrou (Julia Roberts); klassieke vrou (Hillary Clinton); romantiese vrou (Charlize Theron); modern vrou (Sharon Stone). “Die belangrikste is egter dat ‘n mens net jouself moet wees, ook met jou kleredrag,” het Corra gesê, en afgesluit: “Be yourself, dress for yourself, not the crowd and capture the spirit and essence of your soul.”
Vir Bietoubos-navrae kan Annette van Zyl by 028-384-1075 gekontak word.
Hardus Botha