Stanford gemeente nooi hul broers en susters, vriende en familie, bure en besoekers, seebadsmense en saamlopers van Gansbaai en omstreke uit om op Saterdag 4 Oktober saam te kom fees vier en basaar hou op Stanford.
Die saal open om 10h00, maar die tente op die terrein is al van vroeg af oop en groente en pannekoek kan daar gekoop word. Die kafee bedien ontbyt en jy kan 'n vroeg-oggend soetigheidjie by die teetuin geniet. Kom snuffel vroeg vir 'n boek of borduurwerk, borde, glase, snuisterye of fotorame by die wit olifant tafel of kom kyk wat daar te koop is vir die lapverf kunstenaar. Buite sal ook plante en tuindekor wees en verskillende soorte heuning.
Is jy 'n uithaler potjiekoskoker, kyk of jy en jou span die kampioene van die afgelope 2 jaar, Edward Thirion van Swellendam en sy PSG Wealth -span kan onttroon. Daar is opwindende pryse op die spel asook 'n wisseltrofee. Inskrywingsfooi is R100 en vorms is beskikbaar by die Stanford kerkkantoor 028 3410966 / 0283410681 of Carlien Dreyer 0723371544.
Die jaarlikse fynbos tentoonstelling in die kerk is oop vir die hele naweek en kan gratis besoek word.
Kom geniet die dag saam met ons op Stanford.
Elna Dreyer