“Die koning nooi almal na die bal uit, so kry jul kostuums gereed. Dis mooi, groot pret…’n stiefma met ‘n ysterhand en twee venynige stiefsusters,” lui die uitnodiging na Cinderella Se Droom, ‘n Snaterteater Produksie.
Die produksie, onder leiding van Sylvie Agenbach, is oor twee aande in die Pretoriussaal opgevoer. Almal was op die verhoog: Die stiefma en stiefsusters, die koning en koningin, die prins, die koets, die muise, die kat en wie ook nog almal, maar natuurlik ook almal se liefling, Cinderella wat vir die vuil huistake moes sorg.
Die karakters wat die onderskeie rolle vertolk het, het duidelik gewys dat almal van hulle baie hard geoefen het en kon die gehoor laat skaterlag. Twee van hulle is Gansbaai se bekende sanger en Noot vir Noot deelnemer, Andries Laubscher wat die rol van Annabella vertolk het.
Die ander een is Gansbaai se voormalige Mej Fees van die Ganse, Elzaan van Lill, wat die rol van Cinderella vertolk het.
Die kinders wat deelgeneem het, verdien ook ‘n pluimpie en die blootstelling wat hulle op hierdie wyse kry, beteken baie vir hulle.
Anonieme sms’e het agterna getuig van groot genot wat uit die opvoering geput is.
Hardus Botha