Tien dogters van Herberg Kinderhuis se Huis E in Robbertson kan sekerlik van groot dankbaarheid getuig. Hulle was op hulle jaarlikse besoek aan Gansbaai wat deur Lukas en Stienie Geldenhuys en hulle vrywillige helpers gereël word. Die dogters het hulself gate uit geniet met ‘n vol naweekprogram, terwyl daar ook aandag aan die godsdienstige sy gegee is.
Die Vrydagaand het hulle behoorlik aan B’Blondes van Christa de Vries se pizza’s gesmul. Daar het Gert Louw en Pieter de Vries van Gansbaai Lionsklub ook geskenkpakkies as ‘n verrassing uitgedeel. Saterdag was bedrywig: ‘n Toer deur Gansbaai Marine se Visfabriek saam met Flip Fourie en Kobus; Besoek aan Scoops van Gregg Charlesley vir roomys; Pep Stores waar klere gekoop is; Uilenkraalsmond vir Putt-Putt; De Kelders se poele. En wat sal ‘n naweek wees sonder ‘n braaivleis? Dié het hulle Saterdagaand geniet, nadat ds Dirk van Dyk die aandgodsdiens waargeneem het.
Sondag het die groep die Jeugdiens van die NG-gemeente bygewoon en daarna het hulle by Stanfordsbaai se strand gaan ontspan. “Baie dankie aan almal vir mildelike bydraes en ondersteuning,” sê Stienie.
Sy rig ook die volgende bedankings (alfabeties): B’Blondes restaurant (pizza), Bokkie (huis), Flip Fourie & Kobus (Gansbaai Marine fabriekstoer), Gansbaai Lionsklub (klere, geskenkpakkies, koeldrank), Gansbaai Superspar (koopbewys), Johan Brand, Lekkerbek (vrugte), Lettie Wiese, Marie le Roux (hulp met kos), Needles & Pins (wol), Prime Cuts (vleis), Scoops (roomys), Stienie, Marie, Bettie & Susan (toesig) en Susan (fondsinsameling).
Hardus Botha