Die boothengelkompetisie wat Saterdag gehou is het lig in die tonnel verskaf. Die vis wat gevang is, hoewel nie vreeslik buitengewoon nie, het darem ook baie bevrediging tot gevolg gehad. Veral die geelbekke wat ingebring is het heelwat glimlagte na vore gebring. Dit, tesame met die baie jong kabeljou wat weer teruggeplaas is, laat jou met die indruk dat die kabeljou nou begin opdaag (of word die kleintjies hier gebore?) en die grotes se vangslag net om die draai is. Dan hoop ons sommer ook op die geelbekke, wat jy normaalweg so tussen-in raakloop. Kom ons hou duim vas! Daar word ook enkele tjokka by Gansbaaihawe gevang.
In hierdie rubriek bespreek ons gewoonlik lynhengel, maar ‘n aspek van hengel wat ons normaalweg nie baie aandag aan skenk nie is die manne wat dit see-in waag met ‘n duikpak en pylgeweer. Hier by ons is daar ‘n klompie ouens wat so ongesiens hulle ding doen. Dit is mos so dat die manne met die lang stokke, asook die boothengelaars maar weinig hulle prooi voor die tyd te siene kry en dan op tegniek en geluk moet staatmaak om sukses te behaal. Die duikmanne, daarenteen, kan tussen die vis beweeg en hulle prooi uitsoek. Dís darem nou baie eenvoudig gestel.
Ouens wat reeds hierdie ondervinding gehad het, sal egter weet dat dit nie so eenvoudig is nie. Buiten dat jy die duik- en skietkuns eers deeglik onder die knie moet kry, is daar wel ander faktore wat sukses kan beïnvloed.
Eerstens moet die vis ook maar teenwoordig wees en wat dít baiekeer gunstig maak is die regte see-temperatuur. Daar is goed soos strome wat dit moeiliker maak om jou vis in die visier te hou en dan is nie alle visse ewe maklike teikens nie. Die lewendige galjoen is so ‘n voorbeeld. Daar is baie aspekte wat hierdie sport baie interessant maak, maar hieroor dalk later.
Ek het met van hierdie manne gepraat en dat daar op die oomblik baie vis in ons omgewing is, is waar. Dat hulle nie altyd die aas sal vat nie, is ‘n ander werklikheid. ‘n Ou moet maar kyk watter van hierdie tipes hengel jou pas en so verseker dat jy iets vir die rooster sal hê wanneer die ander ouens droëbek sit. Tot volgende keer, Seemeeu