‘n Prestige Vroue-oggend met Chrizülene van Niekerk as organiseerder en Sandra Prinsloo as gasspreker, kan nie anders as om ‘n groot en gesellige sukses te wees nie.
Die tema van Sandra se praatjie was “Vreesloos Vrou”, wat sekerlik ‘n mondvol moes gewees het. Die groot groep dames het by prag-versierde tafels vir die geleentheid en ontbyt aangesit, terwyl daar opgewonde op Sandra se toespraak gewag is. Desmond Wells, ‘n knap sanger van Kaapstad het eweneens die dames aan sy lippe laat hang.
Die fondse vir die dag, ‘n volle R15,000, is deur Morkel van Niekerk van Gansbaai Superspar aan Jolette Bezuidenhout van Laerskool Gansbaai oorhandig. Hierdie mooi bedrag is uitsluitlik bedoel vir die opgradering van Laerskool Gansbaai se netbalbane. Die Gr 7 dogters van Laerskool Gansbaai, asook die Gr 8 dogters van Hermanus Hoërskool, het gesorg vir die puik bediening van die gaste.
JC le Roux, Coca Cola en die span dogters is spesiaal deur Chrizülene bedank.
Hardus Botha