“Christelike Barmhartigheid - ons ís ‘n naaste van elkeen in nood,” lui Badisa se visie. Die inhoud van die Jaarverslag wat deur ds Dirk van Dyk (voorsitter) voorgehou is, spreek duidelik van hierdie visie. In sy voorsittersrede het ds Van Dyk onder andere gesê: “Daar is niks wat God gelukkiger maak as wanneer Hy van ‘n sondige mensekind hoor dat hy ‘n hart gekry het vir ander nie…”
Getalle ten opsigte van 15 kategorieë van gelewerde dienste is volledig in die verslag uiteengesit. Voorts is daar volledig op die onderskeie projekte wat aangepak is, asook die effekte daarvan, gefokus met voldoende foto’s ter illustrasie. Naas ‘n lang lys van bedankings in die verslag, is baie spasie aan die onbaatsugtige werk van vrywilligers afgestaan. Hulle is by etlike aksies betrokke, soos fondsinsamelings, klerekamerverkope, maak van sop, verskaffing van vervoer en veel meer. “Om sonder vergoeding en iets terug te verwag, diens te verrig,” is die korrekte verklaring van die begrip “Vrywilliger”, soos ‘n anonieme vrywillige werker dit gestel het.
Die Beheerraadslede vir Badisa Hermanus, Stanford en Gansbaai Maatskaplike Dienste is ds Dirk van Dyk (voorsitter), ds Charel Nel (ondervoorsitter), menere T Volkwyn, N Olwagen, DFB le Roux en ET Falatsa, asook mevroue S Snyman, ML Wandrag, SS Hatili, A Maphasa, M Adams, S Hans, M Schweyer, J October, A Caie en M Diedericks. Met verwysing na die Straatkollekte in Gansbaai ‘n tyd gelede, het Heidi Kruger, Administratiewe Beampte van Gansbaai Maatskaplike Dienste die volgende laat weet:
“Baie dankie vir die wonderlike bydraes met die straatkollekte in Gansbaai. Ons het ‘n goeie bedrag ingesamel, ondanks die stortreën en mense se harte en hande was werklik oop gewees en dit sluit die besighede in wat ons goedgesind was om spasies vir die vrywilligers te verskaf. Ons het groot waardering vir hulle, asook vir Overstrand Munisipaliteit se Gansbaai Administrasie se samewerking.”
Navrae rakende Gansbaai Maatskaplike Dienste kan aan Heidi Kruger by 028-384-0151, langs die NG Kerk, gerig word.
Hardus Botha