Dit was behoorlik “babas vir Afrika” tydens Silwerjare Dienssentrum se Babakompetisie op 1 November 2014, met 12 inskrywings.
“Die doel van die kompetisie was eerstens gemeenskapsgerig, maar ook om fondse in te samel,” vertel Gerda Gibson van die sentrum. “Ons wil die bejaardes graag op ‘n gesellige uitstappie neem waarby ‘n heerlike braaivleis ingesluit is en het hierdie projek aangepak om met die fondse te help.”
Die kompetisie is deur Magrieta Adams, Bestuurder gereël, met die hulp van Gerda en ‘n Bestuurslid, Naomi Bele. Die moeilike taak van beoordeling is aan Rochelle de Villiers en Antounette Louw opgedra. Hoe moeilik ookal, daar moet wenners wees, al is dit ook net naelskraap omdat die keuses baie moeilik is.
In die ouderdomsgroep 0-3 maande was die wenbabas Justnique (1ste), Gia (2de) en Brionay (3de). By die 4-6 maande was dit Shivani (1ste), Ishmail (2de) en Reginald (3de) en vir die 7 maande tot 1 jaar was dit Ejuné (1ste), Geneva (2de) en Saameerah (3de). Die sentrum se saal was behoorlik volgepak en dit was ‘n kopkrapsessie vir die beoordelaars om finaal op die wenners in die onderskeie kategorieë te besluit.
“Ons bedank graag vir Naomi Bele, Ursula, Karen, Harry en die beoordelaars, Rochelle de Villiers en Antounette Louw, vir hulle bereidwillige en ondersteunende hulp, asook die personeellede wat die kaartjies verkoop het,” sê Gerda. “Magrieta het gesorg dat die babakompetisie suksesvol verloop en almal het die middag terdeë geniet.”
Hardus Botha