Geen einde aan bederfies

Aan bederfies vir Silwerjare Dienssentrum se bejaardes is daar geen einde nie. Hierdie keer was dit die NG Vrouediens se Uitreikaksie onder leiding van Elcine Hulme, wat vir hulle jaarlikse Kersete vir die bejaardes gesorg het.

Breë glimlagte was om die tafels te sien en dit was behoorlik ‘n gedruis van stemme soos wat daar saamgekuier is. ‘n Smaaklike ete, asook die verleidelike nagereg, is deur die dames voorberei. Die sentrum se personeellede het as knap “kelners” opgetree het.

Hulle het ook, saam met die handige Harry, gesorg vir die pragtige versiering van die tafels. Ds Dirk van Dyk het die verrigtinge op gepaste wyse geopen en daarna was daar geen keer aan die opgewondenheid nie. “Hierdie Kersete het lankal reeds ‘n jaarlikse instelling geword en die bejaardes van Silwerjare Dienssentrum, asook die inwoners van Oak Grove Nasorgsentrum, sien al outomaties daarna uit, selfs nog voordat ons dit bevestig het,” vertel Elcine.

Hardus Botha

‘n Gesellige oomblik aan tafel tydens die NG Vrouediens se Uitreikaksie se jaarlikse Kersete aan die bejaardes van Silwerjare Dienssentrum
Die hardwerkende personeellede van Silwerjare Dienssentrum, wat terselfdertyd flinke kelners was
Die groep dames van die NG Vrouediens se Uitreikaksie “in aksie” in die kombuis met die geurige ete