Gansbaai Fotografieklub het op gepaste wyse met ‘n Algemene Jaarvergadering afgesluit, met ‘n uiteet-geselligheid vir lede wat binnekort volg.
Voorsitter Christo Wessels het die AJV goed hanteer, maar ook bekendgemaak dat hy nie weer as voorsitter beskikbaar is nie, maar wel as klublid aanbly. Dieselfde aankondiging is ook deur Linda Kloppers (sekretaresse) en Hardus Botha (media) gemaak, terwyl hy steeds as beriggewer sal optree.
“Dit is vir my ‘n voorreg om alle komiteelede vir hul harde werk gedurende 2014 te bedank, daarsonder sou die klub nie kon vermag wat wel vermag is nie,” het Christo gesê. Hy het ook na die klub se bedrywighede die afgelope jaar verwys, met die klem op praktiese aande, kompetisie-aande, uitstappies, sprekers en gesellige byeenkomste.
Die nuutverkose komiteelede vir 2015 is: Riaan Jacobs (voorsitter); Veronica du Plessis (sekretaris, tesourier en sosiale uitstappies); Marc du Plessis (media en aanbiedinge); Clive Bailey (fotografiese kundigheid en opleiding); Jane Bailey (kompetisies en sprekers).
Wenfoto’s wat tydens die vorige byeenkoms vertoon is, is Tracy van der Linde se “vintage car interior” en Roelof Diener se trein met spesiale effekte. Altwee het R50 geskenkbewyse as pryse ontvang, wat deur Tiekie Draai geborg is. Die laaste kompetisie was vir die neem van swart-en-wit foto’s, wat eweneens puik foto’s opgelewer het.
Vir enige navrae kan Riaan Jacobs by 082-373-8270 gekontak word.
Hardus Botha