Wanneer jy vieruur die oggend see toe gaan, die wind reg skyn te wees, jou bemanning is oorgehaal en jou aas is topdollies is dit seker nie onredelik om te verwag dat jy darem ‘n kabeljoutjie gaan raakloop nie. Bowendien lyk die water ook reg. So werk dit toe ook nie! ‘n Maat van my is onder hierdie omstandighede Holbaai toe en ek het by die huis gebly om aan die Landy te werk. Bitterbek want, het ek gedink, vandag is die dag dat die kabeljou gaan gesig wys. Al wat hulle toe kon wys vir al daardie goeie bedoelings was ‘n paar romanne en hotties -- en sê hy, die water was nogal grof.
Dis darem nie te sê dat daar ander manne was net so sleg gevaar het nie. Die amperbootjies wys gereeld hulle slag en vaar natuurlik ook baie beter. Dit moet egter in ag geneem word dat hierdie manne die ekstra myl loop en amper elke dag, maar beslis elke week daar is, weet waar om te vang en die kuns al vervolmaak het om die kabeljou op die regte gaatjies voor te lê. Bowendien is dit nie net vir ‘n sekere hoek aansit, ‘n stuk aas te hang en agteroorsit nie! Daar is ‘n tegniek wat hierdie amperbootjie- manne reg toepas en die resultate daarvan geniet.
Daar is iets wat nog nooit vir my sin gemaak het nie. Ek is die ander dag uit in omstandighede wat heel aanvaarbaar was vir die normale bankvisse .Nadat ons op ‘n paar gereelde plekke gaan lê het en nie eers’n byt gehad het nie het ons begin soek vir redes daarvoor. Die watertemperatuur was ‘n redelik lae 12 grade en die water koud a.g.v. ‘n oostewind -- nie van die beste winde nie. Boonop was daar ‘n ligte stroom. Genoeg redes? Waarom byt die vis dan toe behoorlik net op hierdie een plekkie (die riwwe lyk dieselfde) -- en sommer behoorlik? Daar is nog baie te leer.
Opsomming DESEMBER 1999-2013
1999. Kreef, hotties, roman, geelbek, haai, klein snoekies, PW’s.
2000. Kreef, silwervis, Heelwat mooi geelbekke.
2001. Hotties, baie geelbek.
2002. Klein snoekies. Hotties, roman, geelbek, tjokka.
2003. Tjokka, kreef, geelbek, roman, *ander bote vang deurnag goed.
2004. Geelbek, kabeljou, heelwat tjokka, krewe.
2005. Kreef, hotties, 1 ooskuskreef!, roman.
2006. Kreef, hotties, snoek.
2007. Hotties, kreef, roman.
2008. Hotties, roman, kreef, 1 kabeljou!
2009. Mooi hotties. Roman, kreef, klein snoekies. Ons vang ook 2 kabeljoue wat pryse wen in komp. Kry ook ‘n prys vir roman, hotties. Paar geelbekkies.
2010. Hotties, roman, snoekies, silwervis, kreef.
2011. Roman, hotties, klein snoekies, kabeljoutjies, 5 rooisteenbrasse -- ondermaat, mooi kolsterte, mooi geelbekke.
2012. Baie hotties, kreef. 1 kabeljoutjie!, roman, mooi oulywe.
2013. Hotties, paar snoekies. Roman, 1 kabeljou!
Groete, Seemeeu