Die titel raadsvrou is Dinsdagaand by ‘n spesiale raadsvergadering van die Munisipaliteit Overstrand aan Burgemeester Nicolette Botha-Guthrie toegeken en drie van haar manlike kollegas het raadshere geword.
Met dié titel gee die munisipaliteit erkenning vir volgehoue gemeenskapsdiens oor ‘n lang tydperk.
Die ander ontvangers was Philippus Appelgrein, verkose verteenwoordiger van Wyk 9 (Kleinmond) en twee proporsionele afgevaardigdes van die ANC, Phillipus May en Makhaya Ponoane.
Raadslede verdien punte vir elke voltooide jaar wat hulle as raadslid dien en kry bykomende punte vir diens in die ampte van burgemeester, speaker, burgemeesterskomiteelid of voorsitter van ‘n wykskomitee. Diens wat by ‘n distriksmunisipaliteit gelewer word kry ook erkenning.
‘n Raadslid moet oor ‘n minimum van vyftien punte beskik om vir raadsheerskap in ag geneem te word.
Volgens die verslag voor die raad beskik raadsvrou Botha-Guthrie oor altesame 24 punte: dertien punte vir haar jare diens as raadslid vanaf 2000, agt punte vir haar rol as burgemeester en 3 punte vir diens in die Overberg se Distriksmunisipaliteit.
Appelgrein het 21 punte, May 18 punte en Ponoane 17 punte ontvang.
Die spesiale vergadering was die eerste wat Wyk 2 se nuwe DA-raadslid, me Riana de Coning, in haar ampshoedanigheid bygewoon het.
SSMA/Fanie Krige