Dit is weer daardie tyd van die jaar wat die kersboom uitgehaal word, kersfeesgeskenke beplan word, wie waar gaan eet en wat ons gaan eet? Dit is vir sommige van ons weke se voorbereiding en dan eensklaps is die dag ook daarmee heen en dan staan ons weer en wonder wat gaan ons doen met die voorbereiding tot die Nuwe Jaar. Wel dit is maklik om die aanloop na Nuwe Jaar nog lekkerder te maak en dit is om in Gansbaai by die Musiekfees van 27 Desember te kom kuier.
Die fees sal oud en jonk vermaak met kunstenaars soos Heuwels Fantasties, Snotkop, Hugo Nieuwoudt, Nic Stevens en nog baie ander. Hierdie dag mag niemand mis nie. Dit is 'n fantastiese aanloop om die Nuwe Jaar tegemoet te gaan.
Toegang is R100 vir volwassenes, R50 vir kinders en tot 6 is gratis. Kaartjies is slegs beskikbaar op die dag van die fees by die ingangshekke. Die hekke open alreeds 10:00 en 'n Mej Musiekfeetjie gaan gekroon word tussen 12:00 en 13:00 (inskrywings is beskikbaar by Spar se inligtingstoonbank). Die eerste 30 inskrywings kry elkeen 'n geskenkpak geborg deur Spar. Daar sal hope pret wees en 'n heerlike boeresportdag word beplan in samewerking met die graad 7 van Laerskool Gansbaai vir 2015. Climbing Wall, Putt Putt baan en 'n bungy bounce gaan ook bydra tot verdere vermaak vir die kinders. Julle mag dit nie mis nie.
Vir die feesgangers wat net rustig agteroor wil sit en luister en kuier is daar 'n groot biertent met heerlike koue drinkgoedjies. Stalletjies vir die koop met die oog of ietsie te koop vir die maag sal ook beskikbaar wees. Daar sal egter vanaf 15:00 die middag ‘n shuttlediens beskikbaar wees vanaf die ingangshek van die fees na Uilenkraalsmond se karavaanpark (by die super tube)en terug en sal die shuttlediens beskikbaar wees al om die half uur tot die aand na die fees.
As organiseerder van hierdie fees besef ek al te goed dat ons almal huishoudelik- en besigheidsgewys gebuk gaan onder swaar en moeilike ekonomiese tye en die beurtkrag maak dit geensins makliker nie. Ek glo egter dat ons hande kan neem en weereens ons ondersteuning vir Laerskool Gansbaai kan laat tel sodat ons kan verseker dat ons kinders van vandag die leiers van more sal wees en net die beste onderrig moontlik kan ontvang. Dit is die skool se eerste en grootste prioriteit en daarom die fondsinsamelingsfees.
'n Opregte dankie gaan aan Superspar Gansbaai (Morkel & De Wet van Niekerk) vir hulle jarelange ondersteuning ten opsigte van die bemarking. Dankie aan Gansbaai Toerisme wat die stalletjies en vermaak hanteer. Dankie aan elke ouer en onderwyser wat hulle beskikbaar gestel het om betrokke te wees by die fees. Dankie aan ieder en elk in Gansbaai vir die positiewe gesindheid, vriendelike ontvangs en die hoflikheid wat ek telkemaal ervaar ter voorbereiding van die fees!!!! Dit maak nie die organisering minder nie, maar met sulke ondersteuning maak almal dit beslis die moeite werd. Kom almal en geniet die fees saam met ons, jou vriende en familie. 'n Dag wat regtig nie gemis kan word nie.
Feesorganiseerder: Chrizulene van Niekerk, Navrae: 082 873 6889
Epos: park48telkomsa.net