‘n Singende Jaareindfunksie beteken net een ding: Die NGK Kerkkoor het 2014 afgesluit. Vanjaar het hulle op ‘n kouevleis en slaai afsluiting besluit en daar is by netjies-versierde tafels aangesit en gesellig saamgekuier. Hierdie groep talentvolle mense onder leiding van Aletta Lochner staan lankal reeds as ‘n “familie” bekend. Gereeld word ook van onmoontlike humor tydens oefensessies gehoor, maar Aletta weet lankal hoe om hulle in toom te hou. Die voorsitter, ds Stoney Coetzee het die verwelkoming hanteer en sy opregte dank en waardering teenoor almal se goeie samewerking deur die jaar uitgespreek. Aletta is uitgesonder vir haar besonderse bydrae en harde werk om ‘n suksesverhaal vir die koor daar te stel.
Saam met haar het Annelene Reinke (begeleier) ook ‘n blyk van waardering ontvang, asook Anita Botha vir haar versieringsaandeel. Die Koorkomitee is ook weer herkies (jaarliks ‘n bewys van hul goeie werk): Ds Stoney Coetzee (voorsitter), Jannie Botha, Pietie Botha, Petrus du Preez en Sunet Heyns. Na enkele verdere bedankings, is daar saamgekuier soos net hierdie “familie-groep” kan saamkuier. Soos gewoonlik was dit ‘n bedrywige jaar vir die koor. Naas hul normale optredes en getroue weeklikse oefensessies, was daar die puik konsert, Sneeuwitjie en die Sewe Bergies vroeër vanjaar, met hulle hoogtepunt die Feeskonsert, asook die jaarlikse en gewilde Kerssangdiens.
Hardus Botha