Gansbaai Marine se “beursie” is onlangs vir die soveelste keer oopgemaak. André Coetzee, Besturende Direkteur, het ‘n tjek ten bedrae van R15,000 aan Cassie Carstens van Overstrand Medical Response (OMR) in Gansbaai oorhandig.
“Ek het kennis geneem van een van julle ambulanse wat stukkend is en het besluit om fondse vir die herstel daarvan te bewillig,” het André gesê. Cassie het intussen bevestig dat die ambulans, waarvan die enjine onklaar geraak het, reeds vir herstel ingestuur is en die geld vir die kostes is reeds oorgeplaas. Vakansiegangers kan gerus kennis neem dat, behalwe vir werkverskaffing en die verwerking van Gansbaai Vissermanne se vangstes, Gansbaai Marine bekendstaan vir jaarlikse groot donasies aan skole, kerke en liefdadigheidsorganisasies.
“Overstrand Medical Response is bekend in Gansbaai en omgewing vir flink en staatmaker diens wat gelewer word en daarom is dit ‘n voorreg om hulle op hierdie wyse te kan ondersteun,” het André gesê. Voorheen het Gansbaai Marine R10,000 bewillig vir die ou Lions-ambulans wat aangekoop is. Overstrand Medical Response se personeel bestaan tans uit Cassie Carstens, Chantell Buys, Kobus van der Merwe, Riaan Buys en Bea Coetzee (‘n Eerstehulp Vrywilliger). Hulle beskik oor twee reaksie-voertuie en twee ambulanse wat die gebied bedien. Inwoners en vakansiegangers kan sonder twyfel weet dat hierdie groepie bekwame mense met hul noodvoertuie paraat is vir die feesseisoen. Kennis kan geneem word dat Overstrand Medical Response ‘n Privaat Ambulansdiens is wat geen subsidie of gelde vanaf enige persoon ontvang nie, hetsy die regering of private persone.
“Daarom het ons ‘n vaste uitroepfooi vir enige uitroepe, asook ‘n vervoerfooi indien u na ‘n hospitaal vervoer moet word,” sê Riaan. “Die goeie nuus is egter dat, indien ‘n persoon oor ‘n Mediesefonds beskik, dat die fonds vir die ambulansvervoer betaal, maar ongelukkig nie vir die uitroepfooi nie.”
Kontaknommers vir vakansiegangers is 078-699-6995 (Noodgevalle), terwyl algemene navrae aan Riaan Buys by 083-881-3631 gerig kan word.
Hardus Botha