“Die doel van die seremonie was om manne en vroue binne die geledere van die Suid-Afikaanse Polisiediens wat hulle lewens in die lyn van dienslewering verloor het, te herdenk,” het Lucille Mangiagalli van die Hermanus Cluster gesê. Kerse ter herinnering aan hierdie lede is tydens gewyde oomblikke aangesteek.
Van die deelnemers was kol Moshi (Stasiebevelvoerder, Gansbaai SAPD), Lucile Mangiagalli (Slagoffer Ondersteuningskoördineerder van Hermanus Cluster), Sersant Adéle Visser (Gansbaai SAPD en Gansbaai Slagoffer Ondersteuningskoördineerder), asook Juanne en Nelia (Nicro opleidingsfasiliteerders). Kol Moshi het ‘n aandenkingskers vir SAPD-lede aangesteek wat hul lewens in die lyn van dienslewering verloor het, met sers Visser wat ‘n aandenkingskers vir slagoffers van misdaad in ooreenstemming met die 16 Dae van Aktiviste vanaf 25 November tot 10 Desember 2014 aangesteek het.
Die geleentheid wat vir die aansteek van aandenkingskerse benut is, was die 3-daagse kursus wat deur Juanne en Nelia in ooreenstemming met die “Victim Empowerment Programme” aangebied is.
In haar toespraak het Lucile ‘n beroep op die teenwoordigers gedoen om die bestaande 16 Dae van Aktiviste na ‘n 365 Dae van Aktiviste te verander sodat daar elke dag aandag aan die euwel van vroue- en kindermishandeling gegee kan word. Sy het die verrigtinge met ‘n treffende gedig van ‘n vroueslagoffer afgesluit.
Hardus Botha