2014 Terugblik

2014 Terugblik

Gansbaai Courant

Januarie

Jeandré Beukes (15) se lewe is op tweede Kersdag deur twee vakansiegangers, Marnus Coetzee (17) en Wessel Hansen (21), by Castle Beach gered. Hy is deur 'n seestroom meegesleur en 'n onbekende vrou, wat hom wou gaan help, het ook in die moeilikheid beland. Sy is deur 'n lewensredder, Anré Broodryk (16), gered.

'n Paar dae later het twee kayakers by Black Sophie, Kleinbaai, in rowwe see in die moeilikheid beland toe hul kayak omgeslaan het. Die kayak het op die rotse beland, maar hulle het veiligheid bereik. Wouter (20) se sleutelbeen is gebreek en Realeen Nel (15) het sny- en skaafwonde opgedoen.

Die Uilkraal-vakansiehuis van André Wessels is tydens 'n brand verwoes en daarna, die volgende oggend, na hewige reën, oorstroom.

Die skiboot, "My China", van Eldo Marais, met 'n bemanning van ervare skippers het byna gesink nadat dit oorstroom is. 'n Groot rubberboot het teen 'n hoë snelheid by "My China" verby gejaag terwyl daar gehengel is. Die brander wat dit veroorsaak het, het die skiboot oorstroom en die agterkant het dadelik onder die water weggesak. 'n Tjokkaboot het die skiboot op die 12 myl bank sowat 16 seemyl van Struisbaai te hulp gesnel.

Bianca de Koning, top-presteerder van Gansbaai Academia se 2013 matrieks, het 5 onderskeidings behaal. Die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, prof Jonathan Jansen, het Bianca persoonlik met 'n uitnodiging gekontak om met 'n volle studiebeurs haar studies by Kovsies aan te pak.

Overberg Kushengelklub se 3 tophengelaars van 2013 met meeste gewig, was Oubaas Lesch 53 kg, Morné Olivier en Louis Otto. Die algehele kampioen was Oubaas Lesch.

Februarie

Die visstorie van die jaar is die 14,8 kg kabeljou wat Kris Jooste van Franskraal in kniediep water by die gruis met die hand gevang het.

Die minister van Onderwys in die Wes-Kaap, mnr Donald Grant, het besoek afgelê by die bouperseel van die nuwe Masakhane Primêre Skool. Grant wou weet hoekom die bouery agter skedule was.

Die Lions se bergfietsmarathon tussen Danger Point Lighuis na Agulhas Lighuis en terug is goed ondersteun.  Andreas Studer was die mans algehele wenner met 'n tyd van 7:35:49. Die wedren vind jaarliks oor twee dae plaas.

Maart

Die hofsaak teen die haaikyk-onderneming, White Shark Projects, ná die dood van die Amerikaner, Chris Tallman (34), op 13 April 2008 duur voort. Die haaiboot is deur 'n reuse golf omgedop en drie toeriste het verdrink.

'n Reeksinbreker, Rodney Adendorf, wat uit was op parool, het weer toegeslaan en is met 10 nuwe huisbrake verbind. 'n Mensejag het gevolg en hy is met die hulp van Blompark inwoners aangekeer toe hulle die hele tyd sy vlugroete deur die woonbuurt uitgewys het. 'n Groot aantal polisiebeamptes het hom oor heinings en erwe gejaag.

Gansbaai Wynproegilde se jaarlikse wyntoer was so gewild dat twee bussies na Botrivier nodig was.

Die twee mans, Joachim van der Poll (25) en Gordon Otto (26), is skuldig bevind vir die aanval op Riaan Burger (links). Hy is 4 jaar gelede deur hul aangerand en met 'n bottelstuk in die gesig gesteek. Die aanval het hom sy linkeroog gekos.

Die hond, Zula, van André Wagenaar, het 'n steenbras van 10 kg in die riviermond by Uilenkraalsmond aangekeer en besig gehou totdat sy baas kom help vang het.

Laerskool Gansbaai het weer eens uitstekend gevaar in die Wes-Kaap Onderwys Departement se jaarlikse Geletterdheid- en Gesyferdheid Sistemiese Toetse.

April

Die burgemeester van die Metropolitan Borough of Wirral in Engeland, rdl Dave Mitchell, het 'n burgemeestersbrief aan die burgemeester van die Overstrand, rdv Nicolette Botha-Guthrie gestuur. Die dorp Birkenhead, waar die Troepeskip Birkenhead gebou is, is in die Wirral munisipale gebied geleë.

Daar was groot skole sardyn by De Kelders en die Weskusbote het ook daar saamgetrek.

Die NGK-horlosie is na 70 jaar verwyder om herstel te word. Paul Knoetze, wat reeds verskeie ou kerkhorlosies, ook die van Elim herstel het, is tans reeds besig daarmee.

Geskiedenis is gemaak toe die Gansbaai Gedenkboek-komitee, die skrywers en die borge, die ooreenkoms onderteken het wat die gedenkboek 'n werklikheid sal  maak.

Die Overberg Kushengelklub se twee bo-baas hengelaars het twee groot visse gevang. Oubaas Lesch met 'n mosselkraker van 10.64 kg en Stephen Ashlin 'n 15,6 kg steenbras.

Die finalisering van die laekoste behuisings-projek in Eloxulweni toon die vordering wat die munisipaliteit in 8 jaar gemaak het. Daar het 183 aansoekers vir subsidies gekwalifiseer.

Mei

Die twee moordverdagtes, Mariaan Nobles en Johan Julies, wat daarvan aangekla staan dat hulle vir Jan (Nugget) Otto in sy slaap met 'n byl doodgekap het, se saak duur in die Strandse Streekshof voort.

Die DA het groot sukses tydens die verkiesing in Gansbaai behaal en die DA bly steeds in bewind in die Overstrand.

Sewe bote van Gansbaai se Pelagiese Vissersvloot het uitstekende vangste ansjovis sowat 3 seemyl voor De Kelders in 18 faam water gemaak. Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het 'n gholfkar en veiligheidstoerusting aan die Uilenkraalsmond Buurtwag oorhandig.

Junie

Stanford is geruk deur 3 sterftes ná padongelukke. Die oorledenes was Marlene Swart, Dezelia Damon en 'n fietsryer, Enricho Spandiel. Net die volgende week was daar weer 3 ongelukke op die R43. Die R43 gaan binnekort vanaf Hermanus tot by Stanford opgradeer word.

Drie bekende Gansbaaiers het Gansbaai se naam op hul onderskeie terreine, op nasionale vlak laat blink. Hugh-Daniel Grobler was die wenner van die Buite (Die Burger) en Cape Union Mart se natuurfotokompetisie. Andries Laubscher het op die TV-program, Noot vir Noot, het tot op die semi-finaal deurgedring. Niel Jonker se kunswerk is by die Kokkedoor-program gebruik om die kokke te inspireer om yskasterte te skep.

Lomond Wynlandgoed met wynmaker, Kobus Gerber, het 'n goue toekenning by die gesaghebbende Decanter World Wine Awards in London, Engeland losgeslaan.

Julie

Gansbaai Sakekamer is by die Afrikaanse Handels Instituut (AHI) Wes-Kaap Kongres aangewys as die Sakekamer van die Jaar. Veels Geluk aan die voorsitter, Fanie Bothma, en sy bestuur.

Die Fynbossentrum en Herbarium van Pearly Beach het 'n nuwe toevoeging gekry toe die Fynbos Garden daar geopen is. Die tuin is langs die Fynbossentrum en huisves sowat 400 plante van die omgewing asook 40 bome. Die netjiese uitgelegde tuin met wandelpaadjies spog ook met die korrekte botaniese name wat by die plante aangebring is.

Twee boothengelaars, Manie van den Berg (61) van De Kelders en Cameron Plaatjies (29) van Blompark is dramaties gered nadat Van den Berg se 3 meter bootjie by Blousloep omgedop het. Die held van die dag was Rory Richards van Pinelands wat sy duikpak aangetrek het en na die boot uitgeswem het. Altwee mans is gered.

 Augustus

Kim Maclean, alias Shark Lady, het byna verdrink terwyl sy in Spanje saam met enorme karet- en leerskilpaaie geduik het. 'n Verbygaande boot se anker het haar gehaak en saamgesleep totdat ander duikers daarin geslaag het om die skipper se aandag te trek en die boot gestop het. Sy is bewusteloos uit die water gehaal en was 15 dae in 'n intensiewe eenheid.

Skipper, Jan (Nugget) Otto wat 3 jaar gelede wreed in sy slaap met 2 massiewe bylhoue teen die kop vermoor is, se twee moordenaars, houtkapper, Johan (Typie) Julies (31) en sy hou-vrou, Mariaan Nobles (29), is in die Strand se Streekshof skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede. Hulle vier kinders waarvan die oudste 7 jaar oud was, was ten tye van die moord saam met hul ouers op die toneel. Die 7-jarige seun se getuienis was deurslaggewend. "Die gruwelike wyse waarop julle 'n slapende man doodgekap en jong kinders, wat ontvanklik is vir indrukke daaraan blootgestel het, asook die moontlike gevolge daarvan op hul latere lewenswyse, vul my met walging en afgryse," het Streekshof-Landdros, Franselien Mouton, tydens vonnisoplegging in September gesê. Julies is vir altesaam effektief  vir  25 jaar (sonder parool) tronk toe gestuur. Nobles sal op haar beurt effektief 18 jaar tronkstraf uitdien. Altwee het geen berou getoon nie.

'n Jong ma, Jo-Ann (Heidi) Arendse (27) (regs), wat as vouer by Gansbaai Courant gewerk het, het gesterf nadat sy met 'n groentemes in haar houman, Steven Speelman, se karavaan in die bors gesteek is. Speelman word steeds op 'n klagte van moord aangehou.

Die sooispit-seremonie vir Dyer Island Conservation Trust (DICT) se eie rehabilitasie-sentrum vir Afrika pikkewyne en seevoëls, die African Penguin & Seabird Sanctuary (APSS), was 'n geskiedkundige gebeurtenis vir Gansbaai. "Hierdie Rehabilitasiesentrum word opgedra aan die onvoorwaardelike welvaart van getraumatiseerde en beseerde pikkewyne en seevoëls," het Wilfred Chivell, stigter van DICT, gesê.

September

Die burgemeester, raadsdame Nicolette Botha-Guthrie, het tydens die prestige Burgemeesterstoekenningsaand gesê: "Elkeen doen daardie ietsie ekstra wat hulle as alledaags bekou, maar wat wel 'n groot impak maak op die natuur of in die gemeenskap. Sewe Gansbaaiers het elk 'n Sertifikaat vir Uitnemendheid ontvang. Annelie Jonker (BARC) en Lean Terblanche (Football Foundation of South Africa) vir gemeenskap ontwikkelingsprojekte. Frikkie Zeelie (AGS pastoor) vir sy passie vir bejaardes en voorskoolse kinders en die armes. Tommy Volkwyn (Gansbaai Primêr Skoolhoof), Lesley Richardson (Flower Valley Conservation Trust), Jason Stonehewer (Pearly Beach Mariene informele kiosk) en Anchelle Damon (student by Future Program by Grootbos) is  genomineer vir 'n besoek aan die Eden Project in Cornwall, Engeland. Sy is 'n veldgids en ambassadeur vir Gansbaai.

Die Uitvoerende Onderburgemeester van die Overstrand Munisipaliteit, rdh Pieter Scholtz, het besluit om die tuig neer te lê. Hy was 'n bastion in die politieke omgewing waar hy 'n groot bydrae tot vooruitgang in die Overstrand en in besonder in Gansbaai gelewer het.

Rdl Dudley Coetzee van Pearly Beach is as voltydse raadslid aangewys. Hy is ook as die Voorsitter van die Portefeulje Komitee :  Finansies, Plaaslike Ontwikkeling en Toerisme aangewys.

Oktober

Die bekende Gansbaai skrywer, SD Fourie, se Strandveld familiesage, Die dooies leef, is 'n opvolgroman op Die Lanternswaaier en is deur Naledi uitgegee.

Winston Wardt (20) (regs) is deur drie mans in Blompark oorval en nadat hy met klippe bestook is en gevlug het, teen die kop gegooi en met 'n mes doodgesteek is. Twee verdagtes is gearresteer.

Die moontlikheid van 'n kernkragsentrale by Gansbaai se Bantamsklip, het weer sterk na vore getree met die bekendmaking van 'n ooreenkoms van die Suid-Afrikaanse Regering met die Russiese Kernkorporasie, Rosatom.

November

Die verhoor van 25 beskuldigdes wat teregstaan op meer as 700 aanklagte wat verband hou met rampokkery, onwettige besit, vervoer en verkoop van perlemoen, sowel as geldwassery het in die Kaapse Hooggeregshof begin. Die sindikaat wat bekend staan as die "Barends"-sindikaat se beweerde aktiwiteite beloop sowat R2,7 miljard. Die staatsaanklaer, adv Helene Booysen het Spr Kapt Danie Rautenbach van Gansbaai as eerste getuie geroep. Hy het 'n deeglike oorkoepelende beeld oor die sindikaat se perlemoen bedrywighede oor 'n tydperk van meer as 'n dekade geskets. Die 12 verdedigende advokate het hom onder kruisverhoor  geneem, maar hy het rotsvas by sy getuienis gestaan. Dit word verwag dat die verhoor minstens twee jaar sal duur.

Gansbaai Marine het weer soos jaarliks groot skenkings aan verskillende organisasies en skole gemaak.

Vlugroep van die Tawiep, 'n keur uit Jan Fourie van Franskraal Museum se boeke, het pas verskyn. Die boek vat die stories wat die hart raak saam in 'n kosbare bundel wat Strandvelders en besoekers sal geniet.

Die Hermanus Provinsiale hospitaal is met R70 miljoen opgradeer van 'n 47 bed na 'n 71 bed hospitaal.

Die sooispit-seremonie bokant Buitekantstraat langs die industriële gebied in Gansbaai is deur die burgemeester en die Wes-Kaapse Minister van Behuising, Bonginkosi Madikizela, waargeneem. Die area is vir 155 bekostigbare wooneenhede geoormerk.

Desember

Die watersuiweringswerke by Baardskeerdersbos is amptelik geopen. Die projek is oor 'n periode van 16 maande teen 'n totale koste van R7 miljoen, voltooi. Die totale koste word deur die Overstrand Munisipaliteit gedra.

Riana de Coning is die nuutverkose Wyk 2 raadslid nadat die DA die tussenverkiesing met 'n meerderheid van 74,95% gewen het.

Die rare wit Brunsvigia orientalis (kandelaarblom) wat by Pearly Beach gevind is, is deur 'n bekende Stellenbosch kweker versigtig uitgehaal toe dit rustend was. Hierdie natuurfrats sou nie op sy eie kon aanteel nie, maar die plant is vegatief vermeerder en vyf klein bolletjies is 10 jaar terug in Pearly Beach en deur Heilie Mostert in die nuwe Pearly Beach Fynbos Garden oorgeplant.

Munisipal IQ, 'n gespesialiseerde data- en inligtingsorganisasie wat op plaaslike regerings fokus, het die Overstrand Munisipaliteit as die top presterende munisipaliteit in Suid-Afrika aangewys. Overstrand word gevolg deur Stellenbosch in die tweede en Steve Tshwete (Mpumalanga) in die derde plek.

Uitgewer, Francois de Jongh

2014 Terugblik

Francois de Jongh

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde se suksesverhaal het geen einde nie - die gilde groei van krag tot krag, met die een byeenkoms so gesellig soos die volgende een.

Gans-Berg Nuus / News
Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

On 4 April 2024, we invited local press and media for an informative Open Day. 

Grootbos Foundation
Easter Bunny Visit at Herberg aan See

Easter Bunny Visit at Herberg aan See

The Easter Bunny delighted everyone at Herberg aan See during the recent Easter weekend.

Herberg aan See
Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Do you ever feel like life is a constant struggle? One step forward, two steps back, and you're exhausted before the week even starts?

Monthly Home Maintenance Tips

Monthly Home Maintenance Tips

Stay on top of home maintenance with these monthly tips.

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

If you love hiking, you're in luck! N०1 Harbour Way is conveniently close to the breathtaking Duiwelsgat Hiking Trail, leading to Walker Bay Nature Reserve.

N०1 Harbour Way
See All Articles