Die gewilde Strand-Veld Voetslaan-klub, met Roelof Diener as stigterslid en voorsitter, het geen bekendstelling nodig nie. Die klub se gewildheid het oor jare heen toegeneem en belangstellendes in staptogte kan nie wag vir elke eerste Saterdag van die maand om aan te breek nie.
Gansbaai Courant se Dagboek kan vir besonderhede dopgehou word. Strand-Veld Voetslaanklub is so genoem om kus-, berg- en veldgebiede by hul staptogte in te sluit en is ‘n groot aanwins vir mense met ‘n passie en liefde vir die see en natuur van die omgewing.
Vanjaar se program is reeds opgestel en sluit onder andere staproetes soos die volgende in: Brandfontein, Buffeljachts na Pearly Beach, Stanford-omgewing, Duynefontein Berg, Fernkloof by Hermanus en Salmonsdam naby Stanford om maar enkeles te noem.
Saterdag, 3 Januarie 2015 vind die eerste staptog plaas. Dit is ‘n maklike roete, ±6km, oor die sandduine van Walker Bay Natuurreservaat en oor die Plaat. ‘n Moontlike fooi aan Cape Nature kan dalk betaalbaar wees. Die groep ontmoet mekaar om 07:00 by Gansbaai Toerisme. Stapskoene, hoed, sonskerm, water, iets te ete sal nodig wees.
Die leier vir die dag is Otto Boysen en hy kan by 028-384-1309 geskakel word.
Hardus Botha