“Die Kerssangdiens van Pearly Beach se NG Kerk op Son-dagaand, 21 Desember 2014, was ‘n besonderse geleentheid met ‘n stampvol kerkgebou,” vertel Petrus de Preez van die gemeente. “Die pragtige binne-versierings het bygedra tot die luisterrykheid van die geleentheid en is deur Anita Botha van De Kelders gedoen.”
Die diens is deur Annelene Reinke, orreliste en Jack White met sy pragtige trompetspel met Die Onse Vader geopen, met die gemeente en besoekers wat hartlik saamgesing het aan die Kersliedere.
Drie Kersgedigte is afwisselend op ‘n besonderse wyse voorgelees: Kerstyding (Sepreo) deur Marizaan Bester, Maria van Elizabeth Eybers, asook Die Kersliedjie van DJ Opperman deur Irmarie Bester. Petrus du Preez het die eerste twee verse van Somerkersfees gesing, waarna die gemeente die daaropvolgende verse hartlik saamgesing het.
“André Rieu se paar snitte uit sy album, Home for Christmas, het verder tot ‘n ongelooflike Kersfees-gees bygedra,” sê Petrus. Die aanwesiges het met die sing van Kersgloria, asook die immergewilde Stille Nag, Heilige Nag, die Kerssangdiens afgesluit. Daarna het ds Willie Kotze, vergesel deur sy eggenote, Fransil, met gebed en die uitspreek van die Seën afgesluit.
“Die diens en die atmosfeer was vir almal ‘n besonderse belewenis en al wat toe oorgebly het, was Adré Rieu wat die gaste na die stoep ‘vergesel’ het, waar smaaklike verversings bedien is,” sê Petrus.
Hardus Botha