Gansbaai is lankal reeds bekend vir die jaarlikse Kersliggies wat die dorp versier. Vanjaar het die Overstrandse Munisipaliteit se Gansbaai Administrasie weer eens baie moeite gedoen, asook hoë kostes aangegaan, en saans is dit ‘n plesier om in Hoofstraat, asook die buitewyke, te ry en daarna te kyk.
Dit is ook goed om te sien hoe besoekers stadig deurry en hierdie mooi gebaar van die munisipaliteit ten volle geniet en waardeer. Jaarliks is daar ook etlike wonings wat behoorlik oorloop van Kersliggies en uitbeeldings. Twee uitstaande voorbeelde is Marie Groenewald se woning in Hoofweg 107 en Yvonne Groenewald se woning in Buitekantstraat 25 (H/v Buitekant- en Frankinstrate). “Vanjaar is dit my 15de jaar wat ek dit doen en ek geniet dit elke jaar baie, veral as ek die besoekers sien wat hier indraai om daarna te kyk,” vertel Yvonne. “Ons parkeer al ons motors vroegaand buite sodat besoekers behoorlik en rustig na alles kan kyk.”
Yvonne nooi inwoners en vakansiegangers uit om te kom kyk en rustig deur die enorme uitstalling van Kersliggies en uitbeeldings te stap. Sy sê die liggies is elke aand aangeskakel, behalwe wanneer dit reën en sy beplan om dit eers later in Januarie te verwyder. “Dus is daar nog genoeg tyd vir besoekers om te kom inloer,” sê Yvonne.
Hardus Botha