Hennie en Ton Muller van Gansbaai is sommer baie trots op hul kleinseun, Jacques Beukes (18) van Potchefstrroom. Jacques was ‘n knap matrikulant van Potchefstroom Gimnasium en het 8 onderskeidings behaal: Afrikaans, wiskunde, lewensoriëntering, ingenieursgrafika en -ontwerp, musiek, inligtingstegnologie, fisiese wetenskappe en lewenswetenskappe. Jacques begin sy studies vanjaar in elektroniese ingenieurswese aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus.
Altwee sy ouers is mediese dokters, maar Jacques sê hy “gril” vir bloed en het besluit om nie in hulle voetspore te volg nie. Naas sy groot liefde vir programmering, is Jacques ook ‘n kranige vioolspeler en lid van Noordwes se Jeugorkes en voordat die druk van sy studies te veel vir hom geword het, het hy ook gimnastiek gedoen.
“My raad aan vanjaar se matrikulante is om die beste met die tyd tot hulle beskikking te doen en vermy selfbejammering as julle voel daar is nie genoeg tyd om te leer nie, hou aan probeer en slaap genoeg!” Vir ontspanning lees Jacques graag fantasie-boeke, maar het ook ‘n belangstelling in geskiedenis-ontwikkeling. Jacques sê hy beskou sy oupas en oumas as sy rolmodelle. “In moeilike tye beweeg hulle vorentoe, sonder om hulle te veel aan omstandighede te steur,” sê hy. Jacques is die oudste kind van Hennie en Elizabeth se dogter, Almarié en haar eggenoot, Pieter Beukes in Potchefstroom.
Lesers sal onthou van ‘n berig in Gansbaai Courant enkele jare gelede toe Hennie ‘n skilpad, wat erg verniel was, met ‘n spesiale staalplaat weer aan dire loop gekry het en hy sê Skillie lewe vandag steeds. Met die tong in die kies is daar destyds na hom verwys as die “Visserman-Skilpadwerktuigkundige”. Nog trotse Gansbaai-familielede is Hermine Groenewald, Ton se suster, en Hermine se dogter, Jolette Bezuidenhout, ‘n onderwyseres by Laerskool Gansbaai, wat Jacques se niggie is.
Hardus Botha