“Om ‘n kind in sy/haar totaliteit te ontwikkel sodat hy/sy in ‘n goed aangepaste en verantwoordelike volwassene kan ontwikkel,” lui Cool Kids Voorskoolse Kindontwikkeling-sentrum se missie.
Die bekende Cool Kids kleuterskool te Buitekantstraat 1730, voorheen van past Frikkie en Mariette Zeelie, is deur Carin Coetzee oorgekoop en word deur haar met ingang van 1 Januarie 2015 bedryf. Die skool is bedoel vir kleuters tussen 18 maande en 5 jaar, met nasorg wat vir Gr R tot Gr 3 leerders ook aangebied word.
Carin se bekwame en opgeleide Pre-primêre onderwyseresse en personeel is Deborah (2-3 jariges), Genevieve (3-4 jariges), Natalíe (nasorg en klas-assistent) en Petro (algemene assistent), met Carin wat die 4-5 jariges onderrig. “Hierdie is personeellede wat hul taak met liefde en toewyding uitvoer,” sê Carin. “Sterk Christelike grondbeginsels is die grondslag waarop die hele skool berus, terwyl geloofsoortuiginge van die ouers en kinders wel gerespekteer word.” Carin sê voorts dat deel van hulle visie is om hoë kwaliteit Pre-primêre Onderwys op fisiese, kognitiewe, perseptuele, emosionele en sosiale ontwikkelingsvlakke aan die kleuters te verskaf.
“Noue vennootskap tussen ouers, die gemeenskap en die skool word deurentyd nagestreef, met konsekwente dissipline en roetine wat te alle tye gehandhaaf word,” sê Carin. “Daar sal ten volle gepoog word om te voldoen aan die kleuters se behoefte ten opsigte van geborgenheid, stabiliteit, orde, roetine en dissipline.” Carin sê ook dat multikulturele onderwys van krag is, met die nodige erkenning en respek vir die kulturele erfenis van elke kind. Kennis kan geneem word van ‘n Ope-dag op Vrydag, 16 Januarie 2015 tot 12:30, waartydens die skool deur belangstellendes besoek kan word.
Vir navrae en/of die inskrywing van kleuters, kan Carin by 028-384-2118 gekontak word, of stuur ‘n e-pos aan haar by carincoetzee1@gmail.com.
Hardus Botha