Asem in, asem uit

Asem in, asem uit

Gansbaai Courant

Met die indraai vanaf die straat doen jy ‘n vinnige skandering van die buitekant van die huis. Gaan gebreekte ruite of oop deur nie. Alles lyk heel vreedsaam. Ook met die inry in die garage merk jy niks vreemds op nie; die binnedeur is ook nog in plek. Al die bagasie word sommer in die waskamer afgelaai. Dit is net soveel makliker om al die wasgoed sommer onmiddellik uit te haal. Sodoende is die uitpak en wegsit in die klerekaste en –laaie ook  minder tydrowend. 

Hier voel ‘n stuk klere nog klammerig van die seelug terwyl ‘n dun straaltjie seestand uit ‘n sak van een van die seuns se kortbroeke loop. Vergeet van uitsoek; dop al wat tas en drasak is op die vloer uit om gewas te word. ‘n Mens kan tog nie see hier in die binneland in ‘n kas wil gaan wegpak nie. Jy ruik die bamboes aan die seuns se t-hemde en onthou hoe hulle mekaar met die nat, bruin plante bygedam het. Die uitsonderlike hoogwater rondom Kersfees het meer bamboes as gewoonlik op Uikraalsmond se sand uitgegooi. ‘n Versameling skulpies val uit een van Sussie se roksakke. Sy het dit net gister nog, terwyl Pa vir oulaas vanaf die Haaiklip af gaan visvang het, op die gruis neffens die rotse sit en optel. Ewe skielik voel dit so lank gelede.

Maar iets ruik nie lekker nie. Soos wat jy die bondel klere, beddegoed en handdoeke omdop op soek na al die witgoed om dit eerste in die wasmasjien te gooi, vind jy die oorsaak van die stank. Hoe op aarde het die gaassak waarmee jou man sy rooi-aas gaan bymekaarmaak het, tussen die wasgoed beland? Dit is veronderstel om in sy vissak te wees. Ai, ‘n man het darem ook geen konsensie nie! Met vaste tred stap jy om die draai en gooi die stink sak diep die garage in. Hy moet dit maar self daar gaan opdiep wanneer hy die tente en kampeergoed uit die waentjie gaan haal. Vir eers is hy te moeg en het hy saam met die kinders voor die televisie neergeplof nadat hy die dekodeerder weer gekoppel het. Eienaardig hoe die mag van die gewoonte oorvat. 

Met die wasmasjien aan die gang, takel jy die houers met kombuisgoed wat op die toonbank in die kombuis staan. Alles moet afgewas word, want die see se wind, weer en stof klou aan alles vas. Koue water moet maar vir eers doen, want jy kan nie wag  vir die warmwatersilinder om die water te verhit nie. “Maaa, wanneer eet ons?” roep die oudste een uit die televisiekamer. Hy is nou op die langbeen-grootvreet-stadium. Asem in...asem uit...pfooo! Alhoewel sy prioriteit op hierdie stadium nie joune is nie, droog jy jou hande af en trek die winkelsak met broodrolletjies en dergelike meer nader. “Oor vyf minute” antwoord jy, met die sekere wete dat hy voor daardie vyf minute verstryk het, sy vraag gaan herhaal as jy nie reageer nie. Almal vlieg uit hulle sit-lê posisies op as jy die skinkbord met ‘n oorvol mandjie met broodbolle en bekers koffie op die tafeltjie voor hulle neersit. Jou eie porsie is veilig agter die toe kasdeur op ‘n kleinbordjie. Vir wanneer jy dit rustig kan geniet.

Die wasmasjien skel sy sewe bliepe. Met die witgoed in die tuimeldroër en die eerste bontgoed in die water, gaan maak jy klaar in die kombuis. Uiteindelik is alles agter mekaar in die kombuis en die kratte en koelhouers op mekaar gestapel in die garage. Die ketel sing vir jou koffiewater en terwyl jy ondersteuning teen die toonbank soek, onthou jy om asem te haal. Asem in...asem uit...pfooo!  Gewapen met die kleinbordjie in die een hand en ‘n beker koffie in die ander hand, beduie jy vir Sussie met die kop om af te klim van jou stoel af. Kop agteroor, elmboë op die leunings, wil jy jou oorgee aan die rus, maar dan skiet ‘n gedagte jou kop tot nuwe nugterheid. Die skaal!! Die braaivleis en stewige slaaie, die buitenstydse roomys en skyfies en Gansbaai se heerlike restaurant poedings! in die badkamer huiwer jy voor die onvermydelike. Asem in...asem uit...pfooo!  Ses kilogram!!! 

Carine Badenhorst

Asem in, asem uit

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Skilder, skrywer, digter, beeldhouer, fotograaf, skut, liefde vir renmotors, Kayalami-ritte, blinde navigasie betrokkenheid, landloop-skeidregter, vryskutjoernalis, rubriekskrywer...

Gans-Berg Nuus / News
Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Congratulations to Grootbos which won a GOLD award for Community Development at the World Travel Market.

Grootbos Foundation
Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

Grootbos Wins Gold for Community Development at WTM 2024

We're excited to announce that Grootbos won a GOLD award for Community Development at the World Travel Market.

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos, die restaurant, bekend vir sy krokodille, op die dangerpoint-pad, het ‘n bedrywige en gesellige ‘First Thursday’ op Donderdagaand, 4 April 2024.

Gans-Berg Nuus / News
Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf competition results for 17 - 21 April 2024.

Gansbaai Golf Club
SMEG Traditional Kitchen Collection

SMEG Traditional Kitchen Collection

Explore the perfect blend of style and practicality with the SMEG Traditional Kitchen Collection, now in stock at S Herholdt. 

S Herholdt
See All Articles