Gansbaai Fotografieklub het 2015 op ontspanne wyse aangepak. Tydens die eerste byeenkoms op Maandag, 19 Januarie 2015, het die nuutverkose voorsitter, Riaan Jacobs sy waardering uitgespreek vir die pragtige opkoms, sowat 20+ lede, waarby enkele nuwe lede ingesluit is.
Lede het die geleentheid ontvang om die jaar se beplanning te bespreek en kommentaar en voorstelle in te dien. Die belangrikste uitvloeisel uit die gesprek is dit waarna Gansbaai Courant al verskeie kere na verwys het. Eerstens is dit ‘n “ontspanne” fotografieklub waarby almal, veral ook die jonger garde, gerus by kan aansluit, sonder kommer dat jy met “professionele” kameramanne en -vroue moet kompiteer. Diesulkes is wel klublede, maar nie “om hul gewig rond te gooi” nie, maar om ander lede te help en te ondersteun. Tweedens is alle tipe kameras welkom, vanaf mik-en-drukke tot by hoogs-gespesialiseerde kameras.
“Gansbaai Toerisme kan gerus vorentoe dopgehou word vir ons klub se foto-uitstallings waarvoor daar goedgunstiglik plek ingeruim is, met foto’s wat te koop aangebied sal word,” het Riaan gesê. “Ons is ook dankbaar dat ons met die hulp van ‘n borg ons eie dataprojektor vir die vertoon van foto’s kon aankoop, wat sekerlik ‘n groot aanwins vir die klub is.”
Die program vir Januarie tot April is bekendgestel, met vele interessante en leersame aanbiedinge, sprekers, kompetisies, uitstappies en veel meer. Nadat die formaliteite afgehandel is, is daar gesellig ontspan met die vertoon van lede se vakansiefoto’s. Dit was bloot vir ontspanning en genot, daarom was daar geen beoordeling van foto’s nie. Die lede teenwoordig moes egter besluit op ‘n gepaste foto wat saam met hierdie berig geplaas moet word. Die keuse het op die foto van Vera Swart van Franskraal geval.
Met verwysing na die meegaande foto, is met die tong-in-die-kies gedink aan ‘n “raai-kompetisie”: “Wat sê die dogtertjie aan die regterkant vir die seuntjie in die middel, wat dink hy op daardie oomblik en waaroor lag die dogtertjie aan die linkerkant so heerlik?”
Hardus Botha