“Julle onthou nog van vandag se Vrugtefees, nê?” het ds Willie Kotze tydens verlede Sondag se Gesinsdiens aan die kinders gevra. “Waar is dit nou weer?” Die antwoord was duidelik: “Op oom Tot se plaas!”
Dit was nou met verwysing na Strandskloof Karavaanpark van Tot en Isabel Fourie waar die NGK se jaarlikse vrugtefees as ‘n gesinsdag aangebied word. Die kinders het geen einde aan energie gehad nie. Die swembaddens, seep-glybaan, speelapparaat en die ruim grasperke is deeglik benut. Dan was daar “Oom Tot se treintrokkies” wat die kinders die wêreld vol rondgery het. Vir die honger wat daarna ingeskop het, was daar heerlike vrugte, roomys, worsrolletjies en ietsie kouds om te drink. Die volwassenes het bontgestaan by die vure, maar die dag was weer eens ‘n heerlike sukses gewees, met die fokus op saamkuier en ontspanning vir die kinders.
Die organiseerders rig graag die volgende bedankings: Gansbaai NG Kerk (finansiële hulp en ondersteuning), Gansbaai Superspar (vrugte en roomys), Tot en Isabel van Strandskloof Karavaanpark (ondersteuning) en veral die ouers en kinders wat die dag meegemaak het.
Hardus Botha