Die eerste byeenkoms van die jaar van Gansbaai Leeskring vind op Dinsdag, 17 Februarie 2015 om 10:00 in die Biblioteeksaal plaas. Tydens hierdie geleentheid sal die bekende plaaslike skrywer, SD Fourie, haar nuutste roman, “Die dooies leef”, bespreek. Alhoewel die verhaal ‘n 100 jaar later afspeel, is dit ‘n vervolg op haar vorige gewilde boek, “Die Lanternswaaier”, wat in 2013 op RSG voorgelees is. “Die dooies leef” word besonder hoog aangeskryf deur befaamde skrywers en resensente, soos onder andere Riana Scheepers en Letti Kleyn. Tydens die “Woordfees”, wat in Maartmaand in Stellenbosch plaasvind, sal Willemien Brümmer, joernalis van “Die Burger”, met SD ‘n onderhoud voer oor “Die dooies leef”. Dit vind plaas op 13 Maart om 11:00 in Erfurthuis en word deur Naledi Uitgewers aangebied.
SD het ook reeds naam gemaak met ‘n hele aantal radiodramas waarvoor sy met verskeie toekennings bekroon is. Dit is ‘n besondere voorreg om SD as spreekster hê, want behalwe haar skrywerstalent, is sy ook ‘n onderhoudende spreekster. Almal wat belangstel om die bespreking by te woon is hartlik welkom.
Annemarie du Plessis