Dis nie aldag dat die bewarings-aktivis, Wilfred Chivell, onkant gevang word nie, maar dít is presies wat onlangs in die Kaap gebeur het.
Wilfred en sy span het die nuwe African Penguin and Seabird Sanctuary op die Birkenhead Lodge gronde tussen Gansbaai en Kleinbaai, by die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad aan lede in die toerismebedryf gaan bekendstel.
Wat Wilfred as ‘n bemarkingsveldtog vir die sentrum (veilige hawe vir die Afrika pikkewyn en seevoëls) beskou het, het omgeswaai na ‘n skenking van R100,000 wat die bewaringsbewuste Wilfred se voete onder hom uitgeslaan het. Hierdie enorme skenking aan Dyer Island Conservation Trust (DICT), waarvan Wilfred die stigterslid is, was afkomstig van die Twee Oseane Akwarium.
“Wilfred was heel uit die veld geslaan - hy het nie van die skenking geweet nie!” skryf Danie Keet, Redakteur: Eikestad Nuus, wat ook die foto aan Gansbaai Courant verskaf het. Die African Penguin and Seabird Sanctuary word op amptelik op Donderdag, 26 Februarie 2015 geopen.
Die geleentheid sal deur spesiaal genooide gaste en borge bygewoon word, asook die spesiale geleentheid die volgende dag. Daarna sal die sentrum oop wees vir die publiek om dit te besoek. Hierdie sentrum is voorheen al as ‘n “eerste” en ‘n geskiedkundige hoogtepunt vir Gansbaai beskryf.
Hardus Botha