Op Woensdag 4 Februarie, het ons plaaslike Besigheidsliga 'n aanvang geneem. Agtien spanne neem hieraan deel.
Aangesien hierdie nie spelers is wat afrigting ontvang het, en nie gereelde spelers is nie, kon daar nie verwag word dat algemene spel waffers sou wees nie. Ons was egter aangenaam verras met die goeie spel wat deur die deelnemers gespeel is. Van die deelnemers het egter getoon dat hulle nog nooit voorheen aan rolbal blootgestel is nie. Dit was opmerklik dat hulle, hoe meer vertroud hulle met die hantering van die rolballe geword het, beter spel begin lewer het. Een opmerking wat ek gehoor het, was dat rolbal baie moeiliker is om te speel as wat dit op die oog af lyk. Met daardie stelling kan die skrywer hom vereenselwig.
Met slegs twee wedstryde agter die rug, is dit moeilik om op hierdie stadium voorspellings te probeer waag van wie die top spanne in hierdie jaar se kompetisie gaan wees. Daar wag nog minstens vyf wedstryde om gespeel te word, en baie gaan nog gebeur voordat die wenspan aangewys word. Aangesien hierdie wedstryde op 'n Woensdag gespeel word, sal die skrywe in Gansbaai Courant nie die week se wedstryde weergee nie, maar die vorige week sin.
Ons sal u egter op hoogte van gebeure probeer hou. Sukses word alle deelnemende spanne toegewens, maar die belangrikste is dat u die ondervinding sal geniet.
Rolbal groete tot volgende keer.
Philip Malherbe