Die geskiedkundige African Penguin & Seabird Sanctuary (APSS), ‘n inisiatief (en droom) van Wilfred Chivell, is op Donderdag, 26 Februarie 2015 amptelik deur die Minister van Toerisme, Derek Hanekom, en Raadsdame Nicolette Botha-Guthrie, Overstrandse Uitvoerende Burgemeester, geopen. Hierdie sentrum kan sonder twyfel as ‘n wêreldklas rehabilitasiesentrum bestempel word - ‘n monument en mylpaal in die noodsaaklike bewaring van die Afrika pikkewyn en ander seevoëls in die Overstrandgebied in die Wes-Kaap.
Minister Hanekom het onder andere gesê dat uitstaande projekte van hierdie aard nie net uitstekend en onontbeerlik vir die omgewing en die gemeenskap is nie, maar vir die land in geheel. Op sy beurt het Wilfred die volgende opmerking gemaak: “Ons is die stem van hierdie spesies wat nie vir hulself kan praat nie.” ‘n Prestige funksie is aangebied met enkele gassprekers, waarna die genooide gaste vir ‘n besigtigingstoer na die sentrum geneem is, nadat die seremoniële lint geknip is, met verversings wat tussendeur bedien is.
Hardus Botha (Foto’s geneem deur Riaan Jacobs)