“Ons is dankbaar teenoor Stanford SAPD wat geweldige goeie werk by ons skool en in ons gemeenskap doen en wil hulle graag opreg bedank,” sê Annelize Zeelie, Administratiewe beampte van Fynbos Akademie. Die skool is sowat 20km vanuit Stanford geleë en is baie afgesonder. Stanford SAPD se kapt Africa, AO Freddie Booysen en konst Ali was deel van die besoek aldaar.
Die leerders is onder andere oor die gevare van dwelms ingelig en daar is ook met hulle oor veiligheid in landelike omgewings gepraat. Aanvanklik is Fynbos Akademie as ‘n dagsorgsentrum vir plaaswerkers, asook die wyer gemeenskap, se kleuters gestig.
Intussen het die skool gegroei tot ‘n volwaardige skool met leerders vanaf Gr RR (10 leerders), Gr R (8 leerders), Gr 1 (6 leerders), Gr 2 (9 leerders), Gr 3 (11 leerders) tot by Gr 4 (9 leerders). Die skoolhoof is Joanie Smith, met 6 onderwysers en administratiewe personeel wat haar bystaan.
Belangstellendes in die wel en weë van Fynbos Akademie kan gerus ‘n besoek aldaar gaan aflê en vir enige navrae en/of ondersteuning kan Annelize Zeelie by 074-333-4463 gekontak word, of stuur ‘n e-pos aan haar by annelize.zeelie@gmail.com.
Hardus Botha