Die hare het weer op Saterdag, 28 Februarie 2015 vir Kansa “gewaai” en dié wat nie “gewaai” het nie, is gekleur. “Die swakker opkoms vanjaar, wat oral die tendens was, het ons nie afgesit nie en die hare het behoorlik gewaai,” sê Maryke van Rensburg, organiseerder van die Gansbaai-span.
Die jaarlikse aanbieding van Kansa Shavathon dien as ‘n fondsinsamelingsprojek en vriende en/of familielede van kankerlyers laat hul hare sny of kleur om hul betrokkenheid te bevestig.
Die totaal wat vanjaar by Gansbaai Superspar se ingang ingesamel is, beloop R3,500: sny en kleur van hare - R2,670; lapelwapens - R40; serpe (“wraps”) - R510; donasies - R280.
‘n Mooi voorbeeld was die Swart-gesin, waar pa Francois, dogter Madelle en haar boetie hul hare onderskeidelik laat sny en kleur het vir ma Riana wat tans onder behandeling is. “Madelle het haar hare net laat kleur, aangesien sy dit later in privaatheid self vir my wil sny,” het Riana gesê.
Bedankings: Charmaine Henrico en Annalise Theunissen (Gansbaai Superspar); Ina Pieterse; Maryke van Rensburg; Leonora Vermeulen; Dedré Burger; Mariana Helfrich.
Hardus Botha