“Dit was ‘n wonderlike dag gewees wat vir my in Somerset-Wes gereël is, selfs met besoekers vanaf Pretoria en Amerika, asook al my vriendinne van Somerset-Wes,” vertel Anna Viviers, of te wel Tannie Mick van Franskraal wat op 17 Maart 1915 in Potchef-stroom gebore is - 100 jaar gelede.
Afgesien van die “normale” dingetjies wat met so ‘n hoë ouderdom gepaardgaan, is sy eintlik nog blakend gesond en kan haar voorkoms en optrede hoegenaamd nie met ‘n 100-jarige persoon geïdentifiseer word nie. Haar nooiensvan is Mitchell, vandaar die noemnaam ‘Mick’. Sy en haar oorlede man is op 13 Desember 1941 in die huwelik bevestig, maar hy het haar reeds in 1991 ontval. Die egpaar het een seun, Jan Viviers, getroud met Lulu wat in Franskraal woon, asook ‘n dogter, Anita, getroud met André Louw van Somerset-Wes. Dan spog Tannie Mick met 3 kleinkinders en 7 agterkleinkinders. Sy het sedert 1993 in Somerset-Wes gewoon, maar het gedurende 2014 saam met Jan en Lulu na Franskraal verhuis.
Sy vertel dat sy ‘n administratiewe beroepslewe gehad het, maar sy is steeds baie lief vir handwerk, naaldwerk en kosmaak. Geraamde tapiserie-werke, wat sy haarself steeds mee besig hou, dien as bewys van haar kunstigheid. Gansbaai Courant het verlede jaar ‘n onderhoud met haar op haar 99ste verjaardag gevoer, waar sy onder andere gesê het: “Watwou bedlêend, ek het so pas in Gansbaai Superspar saam met my skoondogter rondgeloop - sonder ‘n kierie of ‘n rolstoel!” Nou het sy haar 100ste mylpaal bereik en sy lyk nie ‘n dag ouer as verlede jaar nie.
(Foto: Anita Louw)
Hardus Botha