Soos jy gebek is

Soos jy gebek is

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Die arme kransduiwe kom maak elke jaar  nes onder die klein oorhang van die woonstel se dak op die plat dak van die patio.  Gewoonlik probeer hulle eers die lysie tussen die onderste en boonste gedeelte van die huis, maar sodra die nessie halfpad is, gee hulle die stryd teen die Suidoos gewonne.  Dis nietemin mooi om hulle vir ‘n tyd lank net bokant my kamervenster te hoor koer en skarrel,  met my mensebrein wel wetend dat hulle een of ander tyd die aftog gaan blaas.  Wanneer hulle uiteindelik na die woonstel verskuif, kan ek hulle  vryerige danspassies en die nesbouery sommer van my bed af bekyk.  Ek wonder of hulle vroegoggend en laatmiddag  koer-gesange iets  met  gebede te doen het en of dit maar net ‘n geselsery is. As ek hulle was, sou ek eerder gebid het, want  jaar na jaar loop hierdie nesmakery op ‘n tragedie uit.  Die kat vreet óf die eiertjies, óf die kuikens op.  As hulle maar net die wind trotseer het en op die huis se lysie gebly het, was hul nageslag verseker. Tog kom hulle jaar na jaar terug met dieselfde ritueel en dieselfde  binnesmondse koer-liedere. “Hoeb-hoeb-hoeb-hoeb-hoeb.”  Dat die duif ‘n simbool van vrede is, kan ek nou duidelik sien. Soveel van vergewensgesindheid teenoor ‘n moordlustige kat, is nie iets waaraan die mensewêreld gewoond is nie. Die Griekse godin van liefde, Aphrodite, het destyds duiwe gebruik as boodskappers. As gevolg daarvan word koerende duiwe versinnebeeld as simbole van verliefdheid.  Glo my, ek kyk elke dag, maar hierdie duiwe gooi nie briefies af nie!! 

Die kwikkie op die agterstoep “kweet-kweet” met ‘n skril stemmetjie asof hy die honde wil waarsku om op ‘n afstand te bly terwyl dit nou sý beurt is om te kyk of daar enige krummels in hulle kosbak oor is. Baie kordaat en manhaftig! “Mossie” raak hier “Kwikkie, maar man.” Selfs hierdie nietige ou voëltjie is hoog in aansien onder die tradisionele veewagters in ons land. Omdat sy fluit blykbaar soos die van ‘n veewagter klink, pas hy glo die vee op en daarbenewens dui sy teenwoordigheid  op ‘n goeie kalwer-aanwas. Sou ‘n kwikkie dalk per ongeluk in ‘n wip gevang word en sy lewe verloor, sal die vee vrek. Die dooietjie moet dan begrawe word saam met twee wit kraletjies en daar moet ‘n ernstige gebed om benadiging langs die graf gedoen word.

Die roep van ‘n uil in die nag was van tjokkertjie-tyd af vir my onheilspellend. Met rede. Toe ‘n uil een nag op ons huis se dak sit en “hoe-hooo” het my pa die onskuldige opmerking gemaak van:  “Ag, wie gaan tog vannag weer dood?”  Die volgende oggend teen ligdag het ons verneem dat die oom drie huise hoër op in die straat, oorlede is. Weens die ontvanklikheid van my kinderbrein het ek met ‘n onheilige angs deur elke nagtelike uileroep geworstel. Totdat ek so onlangs soos drie- miskien vier- jaar gelede in die nag buitentoe is omdie saak met twee uile op die dak te gaan uitmaak. Ek het my vrees gekonfronteer en ek het dit oorwin. Nou kan ek ‘n vredige uiltjie knip.

So bestaan daar baie mites en gelowe rondom die gevleueldes in die lug. As jy per ongeluk ‘n bloukraanvoël doodskiet, moet jy ‘n kalf of ‘n os offer.  As die skaduwee van ‘n vlieënde berghaan oor jou val, neem hy ‘n deel van jou verstandelike vermoëns saam met hom. ‘n Swart kraai bring boodskappe van gestorwe geeste af. Gelukkig laat hierdie ou  voël haar nie met kaf vang nie, maar ek hou hulle met valk-oë dop.

Tydens die onlangse Fiesta-toekennings het Philip de Vos ‘n rympie gemaak  waarin een van die welluidendste idiome van ons pragtige taal verweef is : “ ...want elke voëltjie het sy lied; hadida en kokkewiet; jy moet sing soos jy gebek is.”  Ons kan oefen so hard as wat ons wil, ons kan probeer om hoër te vlieg as wat ons vlerke lank is, maar dit sal alles kom tot niks, want elke voël moet sing soos hy gebek is.

Carine Badenhorst

Soos jy gebek is

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Stunning Deep-Sky Astrophotography: Nebulae and Galaxies

Stunning Deep-Sky Astrophotography: Nebulae and Galaxies

With the Moon out of the way and weather improving somewhat, there was a few hours gap last night for collecting a few photons.

Under the Microscope: Must Love Ants!

Under the Microscope: Must Love Ants!

Meet Paramixogaster acantholepidis, a rare hoverfly with a fascinating connection to ants. 

Grootbos Foundation
From Fresh Eggs to Chicken Manure

From Fresh Eggs to Chicken Manure

Update from the Entrepreneurship Programme: This is Phakama, who sells freshly laid eggs in Pearly Beach.

Grootbos Foundation
Why You Don't Need to Explain Yourself When You Say No

Why You Don't Need to Explain Yourself When You Say No

You never validate YES. Why do you want to validate NO?

Daily Blog: 29 September 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

Daily Blog: 29 September 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

What an amazing day out at sea with multiple Bronze whaler sharks, southern right whales and Cape fur seals! 

A Little Candlelight Goes a Long Way

A Little Candlelight Goes a Long Way

A little warmth for your home.

See All Articles