Gansbaai se op-en-wakker Pistoolskietklub is steeds op Saterdagoggende bedrywig, ook met so ‘n ou vleisiebraai tussendeur - wie kan dan nou op ‘n nugter maag die teikens tref? Die klub is op 10 Februarie 1994 gestig, met veteraan Alec Kitley wat steeds as voorsitter dien. Tans is daar 39 opbetaalde lede, waarvan sowat 9 aktiewe lede is. Die Bestuur vir 2015 bestaan uit Alec Kitley (voorsitter en baanbeampte), Andy Hammond (ondervoor-sitter en veiligheidsbeampte), Frans en Corinne De Wet (sekretaris) en Kathy Hammond (tesourier). Bykomende bestuurslede is Steve Celliers, Adri Wessels, Stoney Steenkamp en Dirk Ackermann. Een ding staan soos ‘n paal bo water: of die skietende Gansbaaiers skiet en of hulle vleisbraai en gesellig verkeer, hulle geniet dit terdeë.
Belangstellendes in Gansbaai Pistoolskietklub kan inskrywingsvorms en relevante inligting by Gansbaai Toerisme gaan afhaal. Die klub se oefentye onder die wakende oog van hulle ervare baanbeampte is elke Saterdagoggend vanaf 08:00 tot ongeveer 10:30 en kinders met windbukse is eweneens welkom.
Enige navrae kan aan ondervoorsitter Andy Hammond by 028-384-2062 gerig word, of skakel voorsitter Alec Kitley by 028-384-0335 of 083-379-2275.
Hardus Botha