“Die nuutaangestelde SAMSA Ondersoek-/Veiligheidsbeampte vir Gansbaai is Norman Kemm,” sê Koos de Kock, SADSAA Ondersoek-/Veiligheidsbeampte.
“Norman woon in Franskraal en is reeds etlike jare ‘n lid van die Overberg Boothengelklub.” Norman is deur SAMSA/SADSAA in genoemde pos aangestel. “Norman het gedurende Februarie vanjaar altwee die SAMSA/SADSAA kursusse en eksamens met lof geslaag en gedurende Maart het hy sy SAMSA prakties ook geslaag om vir die pos in aanmerking te kon kom,” sê Koos.
“Sedert ek uit genoemde pos uitgetree het, het daar ‘n leemte vir die ‘survey’ van sport/ontspanning en kommersiële visvangbote onstaan wat booteienaars behoorlik laat rondskarrel het.” In ‘n onderhoud met Gansbaai Courant het Norman gesê dat hy vir 43 jaar by die Suid-Afrikaanse Weermag se Spesiale Magte as ‘n Maritieme Bevelvoerder: Tegniese Offisier betrokke was, waar hy in 2011 as Kolonel afgetree het en hulle na Franskraal verhuis het. Hulle huis is al in 2006 gebou, maar hulle besoek Gansbaai al vir die afgelope 55 jaar.
“Norman sal vir die ‘survey’ van bogenoemde bote verantwoordelik wees, terwyl hy ook as ‘n 2de Veiligheidsbeampte vir die Overberg Bootklub as ‘n ‘backup’ vir die huidige een aangestel is,” sê Koos.
“Norman kan by 071-898-2470 of 028-388-0187 gekontak word, maar booteienaars kan steeds vir my ook by 082-690-1835 skakel indien hulle vashaak,” sê Koos.
Hardus Botha