Gansbaai Fotografieklub se lede het lankal nie meer nodig om hulself te bewys nie - tog meen hulle, asook nuwelinge, dat daar steeds met elke byeenkoms meer van die kuns van fotografie geleer word. Dit kan ook dien as motivering van diegene wat dink dat hulle “nie goed genoeg is nie” - daar is ruimte vir kundiges asook leergierige fotograwe in die klub.
Voorsitter Riaan Jacobs het self die vorige byeenkoms se aanbieding waargeneem - met ‘n insiggewende Powerpoint-aanbieding en waardevolle wenke en inligting. “Fotografie moet ‘n plesier wees om te beoefen en elke moment wat vasgevang word, kan verseker dat daardie oomblik jarelank behoue sal bly,” het hy gesê. Hy het etlike voorbeelde, ingesluit die korrekte kameraverstellings vir elke fase, op ‘n leersame wyse vertoon en verduidelik.
Voorbeelde daarvan is: benutting van spesiale effekte vir die perfekte agtergrond; wildlewefoto’s; landskapsfoto’s, ingesluit die sogenaamde “golden hour” met sonsopkoms en -ondergange; see-landskapsfotos; blomme, asook blomme in die veld; vervoer, hetsy per boot, vragmotor, trein en andere; mense. Dan sy persoonlike voorkeur en waarmee hy homself al deur en deur as ‘n kundige bewys het - voëls, hetsy in aksie of sittende. Riaan se foto’s ter illustrasie van elke kategorie wat hy verduidelik het, kan as uitstekend en professioneel beskou word.
Tydens die byeenkoms is klublede se fauna & flora (diere- en plantewêrelde) tema-foto’s vertoon, met die klub se Aanbiedings- en Mediabeampte, Marc du Plessis, wat van mening is dat die foto’s wat vertoon is, van hoë kwaliteit was. Navrae rakende die klub kan aan Riaan Jacobs (voorsitter) by 082-373-8270 gerig word, of stuur ‘n e-pos aan hom by aejacobs@telkomsa.net.
Besoek gerus Gansbaai Fotografieklub se interessante webtuiste, www.gansbaaiphotographyclub.co.za.
Hardus Botha