Dirk Lourens, Gansbaai munisipaliteit se Senior Superintendent: Elektrotegniese Dienste, kan nie net met elektrisiteit werk nie - hy is al vir die afgelope 25 jaar ‘n aktiewe en gesoute varswaterhengelaar, met vele toekennings, soos onder andere WP- en Suid-Kaap Kleure.
Onlangs (11-13 Maart 2015) was Dirk deel van die Suid-Kaap span wat aan die President A Seniors se kampioenskappe/-proewe by Hartbeeskuildam by Hartenbos deelgeneem het. Ander deelnemende provinsies was Natal, OP, WP, Noord-Kaap, Sentraal NW en Limpopo. Elke span bestaan uit 12 hengelaars: ‘n spankaptein, ‘n reserwe en ‘n bestuurder/afrigter. “Onder omstandighede het Suid-Kaap goed gevaar, maar die kusspanne kry maar swaar teen die binnelandse spanne, hoofsaaklik as gevolg van getalle,” vertel Dirk.
‘n Vorige keer het Gansbaai Courant oor Sandrie Wessels berig wat eweneens uitstekend in die dameskompetisies vaar. “Ons het altwee suksesvol vir die Vlak 1 Afrigterskursus ingeskryf, met myself wat 83% behaal het en Sandrie wat met 81% kort agter my geëindig het,” vertel Dirk. Hy het belowe om Gansbaai Courant later in te lig oor varswaterhengel van toeka-se-tyd tot by vandag se professionele varswaterhengel. In ‘n vorige uitgawe het Gansbaai Courant gemeld dat dit verblydend is om weer varswaterhengel-nuus te kon kry.
Volgens Dirk is daar etlike knap (kampioene ingesluit) varswaterhengelaars in die omgewing. Laat hoor gerus van julle.
Hardus Botha