Sweef hoog

Sweef hoog

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Alles  verander. Drasties en vinnig. Of  is dit net die ouderdom?  As dit dan ouderdom is, is ek nederig en vreesloos dankbaar; dit is dan die één positiewe verandering:  dat dit ‘n mens gun om tyd – en ‘n goeie bril – te hê om die interessante en nie-intimiderende veranderinge te kan waarneem.  Om hoër  te vlieg as verfbesmeerde standbeelde, kop omhoog bokant lewelose Escomdrade  (daar is nie meer ‘n instansie soos Evkom nie) en uit keuse nie af te kyk na toi-toiende massas wat die windslukkende waterkrane vir skroot afbreek nie, dit is genade. 

Al druis dit in teen psigiatriese voorskrifte en al predik talle spreekwoorde daarteen, dink ‘n mens tog maar terug. Na ‘n tyd toe iemand vir jou “baas” en “nôi” gesê het en dit by jou geen gevoel van grootheidswaan of meerderwaardigheid ontlok het nie.  Inteendeel,  daar was in jou net ‘n diepe respek vir die wyse waarop hulle saam met jou gewerk het,  uit dieselfde kospotte op jou stoof geëet het en hulle kinders toegelaat het om jou kinders te leer hoe om eenvoudig te speel. Daar was ‘n wederkerige dankbaarheid van gee en ontvang, nie net materialisties nie, maar ook in die omgee vir mekaar.  Dit is die positief van terugdink, die goeie herinneringe. Daarteenoor wonder ek soms:  daardie baba wat aan Klara se bors was terwyl sy op my pa se bankie voor die swartstoof gesit het...stamp een van haar kinders ook nou voete in die strate, met ‘n stok in die hand rondom brandende buitebande?  Het haar kleinkinders almal behoue gebly tussen die koeëlreën van bedwelmde en wraakgedrewe bendelede op die Kaapse Vlakte? 

Die dilemma met die ouderdom is dat ons te veel weet. Ons het te veel deurleef:  die vervulling van eenvoud gesmaak en geleef teen die slakkepas van ‘n “onontwikkelde” land. Dat dit nie so kon bly nie, daarmee het ons vrede gemaak. Of het ons?  Het ons  verstand dalk net te kort geraak om te verstaan dat ons land se vooruitgang bewerkstellig kan word deur bilaterale ooreenkomste met ‘n buurland wat verlede jaar deur die Internasionale Monetêre Fonds aangewys is as die tweede armste land ter wêreld?  Dit terwyl ons besig is om dieselfde verarmingspaadjie te loop omdat buitelanders al die moontlike geleenthede vir werkskepping en armoedeverligting aangebied word en hulle dit met oop hande gryp?  Te oud...heeltemal te oud om saam te speel aan hierdie wolf-wolf-hoe-laat-is-dit-speletjie.  Ek droom die versugting dat my kleinkinders onbevange in ‘n veld of ‘n bos kan gaan speel; dat hulle ‘n kilometer ver skool toe kan loop sonder om hulle hande op selfone in hul sakke te hou om hulp mee te ontbied; dat hulle voorbereiding vir die lewe nie uit ‘n stortvloed van waarskuwings bestaan nie. Maar dit bly ‘n droom. Terselfdertyd maan my verstand my tot dankbaarheid omdat hulle nie weet wat ek weet nie en nie ken wat ek ken nie;  dat hulle manier van grootword vir hulle heel natuurlik is.

Dit is ek wat moet verander. Groot verander, soos in totale ommeswaai. Op my ouderdom moet ek leer om ‘n hedendaagse rolmodel te wees. Ek moet versigtig wees om my kleintyd leefstories vir grootogige kleinkinders te vertel, want Oumas en Oupas is helde. En om ‘n held te kan volg, moet ‘n mens hulle alles kan nadoen.  Daardie les het ek deeglik met my eie kinders geleer.  Hulle het ons  jongmens-kattekwaad – wat meer as net soms aan waaghalsigheid gegrens het –gaan nadoen, gelukkig sonder enige arrestasies of hospitalisasies. Teen ons waarskuwings in dat dit vir hulle generasie ‘n uittarting van die noodlot sou beteken. Dit het my laat besef dat ‘n mens ‘n ander strategie met die jongste generasie moet volg.

Alles verander.  Vinnig en drasties. Selfs die natuur ook.  Dit neem ek intens waar met Sondag se mistigeweer. Die vlae kom soos verwaaide spookasem in die pad op, dit trek toe en dit trek oop.  Die volgende vlagies kom in die pad af, dit trek toe en dit  trek oop. Franskraal se berg trek toe van Gansbaai se kant af, trek oop en trek weer toe van Beebos se kant af.  Dankie Ouderdom, vir onverdeelde tyd om te fokus op die natuur, om met gespreide vlerke hoog bokant verandering te kan sweef. 

Carine Badenhorst

Sweef hoog

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Under the Microscope: Must Love Ants!

Under the Microscope: Must Love Ants!

Meet Paramixogaster acantholepidis, a rare hoverfly with a fascinating connection to ants. 

Grootbos Foundation
From Fresh Eggs to Chicken Manure

From Fresh Eggs to Chicken Manure

Update from the Entrepreneurship Programme: This is Phakama, who sells freshly laid eggs in Pearly Beach.

Grootbos Foundation
Why You Don't Need to Explain Yourself When You Say No

Why You Don't Need to Explain Yourself When You Say No

You never validate YES. Why do you want to validate NO?

Daily Blog: 29 September 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

Daily Blog: 29 September 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

What an amazing day out at sea with multiple Bronze whaler sharks, southern right whales and Cape fur seals! 

A Little Candlelight Goes a Long Way

A Little Candlelight Goes a Long Way

A little warmth for your home.

October is Breast Cancer Awareness Month

October is Breast Cancer Awareness Month

At Pam Golding Properties Gansbaai, we believe in building strong foundations in our homes...

See All Articles