Sweef hoog

Sweef hoog

Gansbaai Courant

Alles  verander. Drasties en vinnig. Of  is dit net die ouderdom?  As dit dan ouderdom is, is ek nederig en vreesloos dankbaar; dit is dan die één positiewe verandering:  dat dit ‘n mens gun om tyd – en ‘n goeie bril – te hê om die interessante en nie-intimiderende veranderinge te kan waarneem.  Om hoër  te vlieg as verfbesmeerde standbeelde, kop omhoog bokant lewelose Escomdrade  (daar is nie meer ‘n instansie soos Evkom nie) en uit keuse nie af te kyk na toi-toiende massas wat die windslukkende waterkrane vir skroot afbreek nie, dit is genade. 

Al druis dit in teen psigiatriese voorskrifte en al predik talle spreekwoorde daarteen, dink ‘n mens tog maar terug. Na ‘n tyd toe iemand vir jou “baas” en “nôi” gesê het en dit by jou geen gevoel van grootheidswaan of meerderwaardigheid ontlok het nie.  Inteendeel,  daar was in jou net ‘n diepe respek vir die wyse waarop hulle saam met jou gewerk het,  uit dieselfde kospotte op jou stoof geëet het en hulle kinders toegelaat het om jou kinders te leer hoe om eenvoudig te speel. Daar was ‘n wederkerige dankbaarheid van gee en ontvang, nie net materialisties nie, maar ook in die omgee vir mekaar.  Dit is die positief van terugdink, die goeie herinneringe. Daarteenoor wonder ek soms:  daardie baba wat aan Klara se bors was terwyl sy op my pa se bankie voor die swartstoof gesit het...stamp een van haar kinders ook nou voete in die strate, met ‘n stok in die hand rondom brandende buitebande?  Het haar kleinkinders almal behoue gebly tussen die koeëlreën van bedwelmde en wraakgedrewe bendelede op die Kaapse Vlakte? 

Die dilemma met die ouderdom is dat ons te veel weet. Ons het te veel deurleef:  die vervulling van eenvoud gesmaak en geleef teen die slakkepas van ‘n “onontwikkelde” land. Dat dit nie so kon bly nie, daarmee het ons vrede gemaak. Of het ons?  Het ons  verstand dalk net te kort geraak om te verstaan dat ons land se vooruitgang bewerkstellig kan word deur bilaterale ooreenkomste met ‘n buurland wat verlede jaar deur die Internasionale Monetêre Fonds aangewys is as die tweede armste land ter wêreld?  Dit terwyl ons besig is om dieselfde verarmingspaadjie te loop omdat buitelanders al die moontlike geleenthede vir werkskepping en armoedeverligting aangebied word en hulle dit met oop hande gryp?  Te oud...heeltemal te oud om saam te speel aan hierdie wolf-wolf-hoe-laat-is-dit-speletjie.  Ek droom die versugting dat my kleinkinders onbevange in ‘n veld of ‘n bos kan gaan speel; dat hulle ‘n kilometer ver skool toe kan loop sonder om hulle hande op selfone in hul sakke te hou om hulp mee te ontbied; dat hulle voorbereiding vir die lewe nie uit ‘n stortvloed van waarskuwings bestaan nie. Maar dit bly ‘n droom. Terselfdertyd maan my verstand my tot dankbaarheid omdat hulle nie weet wat ek weet nie en nie ken wat ek ken nie;  dat hulle manier van grootword vir hulle heel natuurlik is.

Dit is ek wat moet verander. Groot verander, soos in totale ommeswaai. Op my ouderdom moet ek leer om ‘n hedendaagse rolmodel te wees. Ek moet versigtig wees om my kleintyd leefstories vir grootogige kleinkinders te vertel, want Oumas en Oupas is helde. En om ‘n held te kan volg, moet ‘n mens hulle alles kan nadoen.  Daardie les het ek deeglik met my eie kinders geleer.  Hulle het ons  jongmens-kattekwaad – wat meer as net soms aan waaghalsigheid gegrens het –gaan nadoen, gelukkig sonder enige arrestasies of hospitalisasies. Teen ons waarskuwings in dat dit vir hulle generasie ‘n uittarting van die noodlot sou beteken. Dit het my laat besef dat ‘n mens ‘n ander strategie met die jongste generasie moet volg.

Alles verander.  Vinnig en drasties. Selfs die natuur ook.  Dit neem ek intens waar met Sondag se mistigeweer. Die vlae kom soos verwaaide spookasem in die pad op, dit trek toe en dit trek oop.  Die volgende vlagies kom in die pad af, dit trek toe en dit  trek oop. Franskraal se berg trek toe van Gansbaai se kant af, trek oop en trek weer toe van Beebos se kant af.  Dankie Ouderdom, vir onverdeelde tyd om te fokus op die natuur, om met gespreide vlerke hoog bokant verandering te kan sweef. 

Carine Badenhorst

Sweef hoog

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Transform Your Kitchen with S Heroldt and SMEG: Premium Luxury Kitchen

Transform Your Kitchen with S Heroldt and SMEG: Premium Luxury Kitchen

Revamp your kitchen with S Heroldt and SMEG!

S Herholdt
Draft AGM Minutes - 22 March 2024

Draft AGM Minutes - 22 March 2024

We're pleased to share the draft minutes of our Annual General Meeting held on March 22, 2024. 

Updated Constitution - March 2024

Updated Constitution - March 2024

We are thrilled to announce the release of our updated Constitution for the Pearly Beach Ratepayers Association, effective March 2024. 

Luxe Travel Awards 2024

Luxe Travel Awards 2024

Over the past nine months, the Luxe Travel Award judges have traversed South Africa in pursuit of unparalleled hotel experiences.

Gans-Berg Nuus / News
Ooba's 7 Easy Steps to Own Your First Home

Ooba's 7 Easy Steps to Own Your First Home

Feeling overwhelmed by the homebuying process?

Olive Harvest Success and Limited Edition Olive Oil

Olive Harvest Success and Limited Edition Olive Oil

We're thrilled to announce that with the help of Elim Home Agriculture, we've had a successful olive harvest at Elim Home!

Elim Home
See All Articles